Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 19 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met swem: Die 22-jarige Pieter Coetzé is die vyfde Suid-Afrikaner wat die Swem-Wêreldbeker wen. Hy het die algehele titel opgeraap met 172,9 punte in drie Wêreldbeker-afdelings in Baku, Tashkent en Astana en tien medaljes huis toe geneem, onder meer ‘n wêreldrekord in die 50-meter rugslag. Coetzé steek sowat 1,6-miljoen-rand in sy sak vir die algehele titel en twee Triple Crown-bonusse van ongeveer 165-duisend-rand elk nadat hy goud gebuit het in die 100- en die 200-meter rugslag in al die Wêreldbeker-afdelings.
# Rugby: Die Leeus se hoof-afrigter, Ivan van Rooyen, het sy manne geloof wat wou voortgaan met Saterdag se Kampioenebekerwedstryd teen Stade Francais in Frankryk speel ondanks die dood van hulle spanmaat, Hyron Andrews, Vrydagoggend. Hy is bewusteloos aangetref in sy hotelkamer en later dood verklaar. Die oorsaak is nog nie bevestig nie. Saterdag se kragmeting was baie emosioneel, veral toe Andrews se nommer 5-trui vooraf op die veld neergelê is. Die Leeus het 31-14 verloor, maar Van Rooyen sê hulle het respek getoon vir hulle ontslape spanmaat.
Nog rugbynuus: Sizophila Solontsi sal die Springbok-vroue Donderdag en die 31ste van die maand aanvoer in die laaste twee toetse in die W-15 Wêreldreeks teen Ierland in Kaapstad, aangesien kaptein Babalwa Latsha weens ʼn enkelbesering buite aksie is. Nombuyekezo Mdliki is ook op die kantlyn met ʼn rib-besering. Unam Tose is aangewys as onderkaptein vir die twee toetse. Dis die eerste internasionale wedstryde tussen dié twee lande in Suid-Afrika.
# Motorsport: Red Bull se voormalige spanhoof, Christian Horner, erken hy het druk geplaas op die destydse wedren-direkteur, Michael Masi, tydens die beslissende Abu Dhabi Grand Prix van 2021. Masi is uit sy pos onthef oor ‘n laat veiligheidsmotor-ontplooiing, waarna Max Verstappen van Red Bull vir Lewis Hamilton van Mercedes kon verbysteek en sy eerste wêreldkampioenskap inpalm. Horner sê hy het Masi gevra om nie die wedren agter die veiligheidsmotor te laat eindig nie:
# En tennis: Die Spanjaard Alejandro Davidovich Fokina het sy beste wêreldranglysposisie van 13 behaal nadat hy die Shanghaise Meesterstoernooi in China gewen het. Hy het sy landgenoot Rafael Jodar in die eindstryd verslaan vir die grootste titel van sy loopbaan. Jodar, wat puik vaar in sy eerste ATP-seisoen, het ook opgeskuif na sy beste posisie van elfde en kan steeds kwalifiseer vir die jaareindtoernooi in Turyn. Die Italianer Jannik Sinner bly nommer een, terwyl Novak Djokovic van Serwië vier plekke gedaal het tot twaalfde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….