Nuus 12:00
BULLETIN 19 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Masemola is vasbeslote om die polisie te verenig en integriteit te versterk
# Trump skaar hom agter Netanyahu se herverkiesing
# En rugby: Die Leeus se afrigter sê hulle wou speel uit respek vir Andrews
# Nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola sê sy terugkeer na diens dui op ‘n hernude verbintenis tot eenheid, aanspreeklikheid, hervorming en beter wetstoepassing. Hy het ‘n nuuskonferensie gehou in die Polisie-opleidingsakademie in Pretoria met sy terugkeer nadat president Cyril Ramaphosa verlede week sy skorsing opgehef het. Masemola sê die Polisiediens is groter as enige individu en die grondwetlike mandaat moet altyd voorrang geniet bo persoonlike belange, interne verskille en individuele omstandighede:
# Die Ouditeur-generaal se kantoor sê nie-nakoming in verkryging en gevolgebestuur, strategiese beplanning en prestasiebestuur bly ‘n probleem in die onderwyssektor. Vrugtelose en verkwistende uitgawes het toegeneem van 7,48-miljoen-rand in 2024/25 tot 175,6-miljoen-rand in 2025/26, met die Vrystaat die grootste bydraer. Die Gautengse Onderwysdepartement het die meeste bygedra tot die 20,7-miljard-rand se onregmatige uitgawes wat provinsiale Onderwysdepartemente in die boekjaar tot einde Maart aangegaan het. Die Ouditeur-generaal sê volgehoue nie-nakoming met verkryging kan leer en onderrig negatief raak.
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Gesondheid is bekommerd oor maagdermkanaal-siektes in Bronkhorstspruit en omliggende gebiede in die Stad Tshwane. Die afgelope ses dae is ongeveer 160 diarree- en maagverwante siektes in die metro aangemeld. Tshwane sê ʼn siekte wat deur water oorgedra word is ʼn moontlike oorsaak, maar die ondersoek duur voort. Die komitee se voorsitter, Faith Muthambi, sê kommer bestaan oor die moontlike uitwerking op openbare gesondheid, veral as die uitbreking met watergehalte-probleme verband hou.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, onderskryf die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, vir herverkiesing in volgende week se parlementsverkiesing – die eerste sedert die Hamas-geleide aanvalle in Oktober 2023. Trump beskryf Netanyahu as ‘n gedugte vegter en belangrike vennoot van Amerikaanse optrede teen Iran. Die meeste meningspeilings toon Netanyahu se koalisie sal waarskynlik nie die 61 setels behaal wat nodig is om ‘n regering te vorm nie. Netanyahu het Trump bedank vir sy steun:
# Rugby: Die Leeus se hoof-afrigter, Ivan van Rooyen, het sy manne geloof wat wou voortgaan met Saterdag se Kampioenebekerwedstryd teen Stade Francais in Frankryk speel ondanks die dood van hulle spanmaat, Hyron Andrews, Vrydagoggend. Hy is bewusteloos aangetref in sy hotelkamer en later dood verklaar. Die oorsaak is nog nie bevestig nie. Saterdag se kragmeting was baie emosioneel, veral toe Andrews se nommer 5-trui vooraf op die veld neergelê is. Die Leeus het 31-14 verloor, maar Van Rooyen sê hulle het respek getoon vir hulle ontslape spanmaat.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 18-rand-44-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-692-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-176-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 108-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….