Nuus 08:00
BULLETIN 19 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC-vroueliga eis optrede teen Gwede Mantashe
# Duduzane Zuma is vol vertroue dat die MK-party goed sal vaar in die verkiesing
# En swem: Pieter Coetzé is die vyfde Suid-Afrikaner wat die Swem-wêreldbeker wen
# Die ANC-vroueliga eis dat die party se nasionale voorsitter, Gwede Mantashe, getug word en verskoning vra vir die verkleinerende opmerkings wat hy tydens sy veldtog in Noordwes gemaak het. Mantashe het op ‘n joernalis se vraag oor seks vir werk, na vroue se geslagsdele verwys. Die vroueliga se sekretaris-generaal, Nokuthula Nqaba, het aan Newzroom Afrika gesê die opmerkings was onnodig onvanpas en kom neer op herhaalde beledigings en aanvalle op vroue. Sy sê Mantashe se ouderdom is geen verskoning vir sy oneerbare gedrag nie:
# Die MK-party se eerste adjunkpresident Duduzane Zuma het vertroue uitgespreek dat die party goed sal presteer in volgende maand se plaaslikeregeringsverkiesing. Die party, wat die eerste keer sedert sy stigting in 2023 aan ʼn munisipale verkiesing deelneem, het Sondag ʼn mini-saamtrek by die Mnini-sportveld in uMgababa, suid van Durban gehou. Zuma sê Suid-Afrikaanse kiesers, veral jongmense, moet die verkiesing ernstig opneem eerder as om onverskillig te staan:
# Die polisie se nasionale eenheid teen onwettige en nagemaakte produkte het die afgelope week in ʼn multidissiplinêre operasie in Johannesburg se middestad beslag gelê op goedere van meer as 160-miljoen-rand. Beamptes het soek-en-beslagleggingslasbriewe gehad vir geïdentifiseerde persele wat tot die ontdekking van produkte met vermoedelik vervalste handelsmerke gelei het. Polisiewoordvoerder Amanda van Wyk sê hulle het beslag gelê op meer as 62-duisend nagemaakte items. Dit sluit klere, skoene, grimering, horlosies, juwele en sonbrille van duur handelsmerke in:
# Die Franse president Emmanuel Macron het kalmte en orde gevra en die geweld in die land beskryf as die werk van “opruiende elemente uit ver-linkse faksies, bygestaan deur verskeie misdadigers.” Frankryk is geskok ná een van die gewelddadigste naweke ooit, met vreedsame anti-regeringsbetogings wat in oproer en plundering ontaard het. Die betogings was oor stygende brandstofpryse, toenemende lewenskoste en die agteruitgang van openbare dienste. Twee-duisend-400 mense is in hegtenis geneem. Macron het gisteraand in ‘n toespraak aan die nasie gesê niks regverdig die “ongebreidelde” geweld nie, en het belowe die betrokkenes sal aan die pen ry.
# Swem: Die 22-jarige Pieter Coetzé is die vyfde Suid-Afrikaner wat die Swem-Wêreldbeker wen. Hy het die algehele titel met 172,9 punte in drie Wêreldbeker-afdelings in Baku, Tashkent en Astana opgeraap, en tien medaljes huis toe geneem, onder meer ʼn wêreldrekord in die 50-meter rugslag. Coetzé steek sowat 1,6-miljoen-rand in sy sak vir die algehele titel en twee Triple Crown-bonusse van ongeveer 165-duisend-rand elk nadat hy goud gebuit het in die 100- en 200-meter rugslag by al die Wêreldbeker-afdelings.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-47-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-503-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-179-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 109-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….