Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 19 Oktober 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die DA het dit opnuut duidelik gestel dat hy nie bereid is om met die MK-party of die EFF te onderhandel om na die verkiesing ‘n koalisie te vorm nie. Die DA-burgemeesterskandidaat in Johannesburg, Helen Zille, sê die party is steeds gefokus op ‘n volstrekte meerderheid.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig president Cyril Ramaphosa het die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, opdrag gegee om heeltemal te herstel voordat hy terugkeer werk toe. Mbalula het kort na die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die party se kieserslyste inmekaargesak.
En tweedens skryf die webblad ‘n vragmotor sonder bestuurder het reuseskade in Umlazi aangerig toe dit in ‘n pad afgeloop en teen sewe huise gebots het. Verskeie mense is ook beseer.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ’n 35-jarige man van Bangladesj, Nadim Hoshen, is tydens ’n motorkaping in Villiers in die Vrystaat ontvoer. Die ontvoerders eis na bewering ’n losprys van drie-miljoen-rand vir sy veilige vrylating. Die polisieondersoek het tot dusver geen leidrade opgelewer nie en dis onduidelik waar Hoshen tans aangehou word.
# Sowetan:
Berig die inwoners van Hammanskraal dreig om nie op 4 November te gaan stem nie omdat daar steeds niks gedoen is aan die voorsiening van drinkwater in die gebied nie. Hulle sê dit help nie om vir leë beloftes te stem nie.
# En The Citizen:
Skryf die ANC mag die uitspraak in die Konstitusionele Hof as oorwinning vier, maar kenners sê die hof het in belang van kiesers opgetree om hulle te beskerm teen die ANC se onbevoegdheid.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig Ramaphosa sê die DA is om bepaalde redes, ná die vorige verkiesing, ingesluit in die regering van nasionale eenheid en hoewel beleid ingrypend verskil, het die regering reeds baie vermag. Hy sê daar is geen planne dat die DA die RNE gaan verlaat nie.
En tweedens skryf die koerant oudpresident Jacob Zuma is ná elf dae uit die hospitaal ontslaan.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig hoewel die veld by die Wesbourne Oval in Gqeberha in ‘n redelike toestand is, is die klubhuis en ander geboue gestroop deur vandale.
En tweedens word berig die Oos-Kaapse premier Oscar Mabuyane sê diegene wat die ANC se kieserlyste in die Oos-Kaap gemanupileer het, moet ontbloot word.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf daar heers kommer oor die toename in vervalste siekbriewe wat al hoe meer gebruik word om van die werk af weg te bly.
En tweedens berig die koerant Frankryk is besig om die koste van die skade te bereken na gewelddadige betogings oor lewenskoste.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die vertraging in die voorlegging van die langverwagte Wetsontwerp op die Boubedryf is te wyte aan herhaalde konsultasies en die ingewikkelde aard van die bousektor.
En tweedens skryf die koerant die voormalige presidentsvrou Penehupifo ‘Penny’ Pohamba wat Saterdag oorlede is, is gevier as een van die vroue wat gehelp het om Namibië se geskiedenis ná onafhanklikwording te vorm.