Nuus 06:00
BULLETIN 19 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa verdedig die regering van nasionale eenheid
# AfriForum wil Thabo Mbeki kruisondervra tydens die WVK-ondersoek
# En gewelddadige betogings brei uit na Italië, Portugal en België
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê partye in die regering van nasionale eenheid, met uiteenlopende beleid en ideologieë, kon daarin slaag om saam te werk tot voordeel van Suid-Afrika. Verlede week het die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, gevra vir ’n hersiening van die DA se rol binne die regering van nasionale eenheid, nadat die partye gebots het oor die ANC se saak teen die Verkiesingskommissie in die Konstitusionele Hof. Ramaphosa het gister tydens sy veldtog in Kaapstad aan die media gesê burgers het die geleentheid om ’n verskil te maak in die plaaslikeregeringsverkiesing:
# Oudpresident Thabo Mbeki sal na verwagting vandag en môre getuig voor die Khampepe-kommissie van ondersoek. Sy getuienis kan lig werp op bewerings van politieke inmenging, asook op die rede waarom sekere misdade uit die apartheidsera, waarna die Waarheids- en Versoeningskommissie verwys het, nooit vervolg is nie. Dit volg nadat die Konstitusionele Hof ‘n aansoek van die hand gewys het om die afgetrede regter Sisi Khampepe as voorsitter te laat verwyder. Die ondersoek fokus op vertragings in die vervolging van misdade tydens die apartheidsera.
AfriForum het die Khampepe-kommissie intussen gevra om advokaat Gerrie Nel toe te laat om Mbeki onder kruisverhoor te plaas. Dit hou verband met bewerings van politieke inmenging om vervolging vir misdade in die apartheidsera te voorkom, insluitend die 1985-landmynaanval naby Musina, waarin Kobie van Eck en haar twee jong kinders dood is. AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, beweer die ANC is verantwoordelik vir growwe menseregteskendings:
# Die ACDP-raadslid, Palesa Yates, sê Ekurhuleni benodig dringende hervormings in bestuur, finansies en dienslewering. Yates sê die metro moet genoeg kontantreserwes handhaaf om bedrywighede minstens 25 dae te dek. Sy vra ook verbeterings aan infrastruktuur, insluitend die herstel van slaggate, die instandhouding van waterinfrastruktuur en die herstel van kragonderbrekings binne 24 tot 48 uur. Yates beklemtoon die OR Tambo Internasionale Lughawe maak Ekurhuleni ‘n strategiese spilpunt vir nywerheids- en toerismegroei:
# Die gewelddadige betogings waaronder Frankryk en Spanje die afgelope weke deurgeloop het, het na Italië, Portugal en België versprei. In Frankryk is minstens een-duisend-800 mense in hegtenis geneem tydens betogings oor stygende brandstofpryse, die lewenskoste en die agteruitgang van openbare dienste. Talle luukse winkels, waaronder Ralph Lauren, Gucci en Versace, is in Parys beskadig. In Milaan, Italië, het betogers met die polisie gebots, winkels geplunder en eiendom aan die brand gesteek. In Lissabon, Portugal, is betoog teen die lewenskostekrisis, lae lone en behuising.
# Krieket: Reën het gister die openingsdag van die tweede toets tussen Suid-Afrika en Australië op St George’s-park in Gqeberha in die wiele gery. Slegs 12,2 boulbeurte kon gespeel word, met die Proteas op 20 vir twee in hul eerste beurt. Scott Boland het albei paaltjies vir die besoekers geneem. Kaptein Temba Bavuma sal vandag sy onoorwonne beurt voortsit op vier lopies. Marques Ackerman sal ook kolf nadat hy sy debuut vir die Proteas gemaak het met vyf lopies van 32 balle. Australië het die eerste toets in Durban met 214 lopies gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-48-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-650-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-176-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 110-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….