Nuus 09:00
BULLETIN 18 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement se heropbouprojekte is uitgestel tot Junie 2027
# Hellen Zille belowe ‘n Madlanga-tipe korrupsie-ondersoek indien sy verkies word
# En krieket: Kagiso Rabada is terug met die Proteas wat wil wraak neem teen Australië
# Herstelwerk aan die brandbeskadigde Parlementsgeboue is uitgestel en sal na verwagting eers teen Junie 2027 voltooi wees. Die Ouditeur-generaal se kantoor het tekortkominge in finansiële beheermaatreëls en samewerking tussen die finansiële- en projekspanne uitgewys. ‘n Amptenaar in die Ouditeur-generaal se kantoor, Thomas Mamogwe, sê onvoorsiene probleme op die bouperseel het tot vertragings en bykomende eise deur kontrakteurs gelei. Mamogwe beveel strenger toesig aan oor bouwerkskedules, die prestasie van kontrakteurs en regstellende maatreëls om te verseker die projek vorder en openbare geld word verantwoordelik bestuur.
# Die DA se burgemeesterskandidaat in Johannesburg, Helen Zille, sê indien die party verkies word, sal sy ‘n onafhanklike ondersoek na korrupsie in die stad instel. Zille het afgevaardigdes by Nasrec in Gauteng toegespreek as deel van haar Now or Never-veldtog. Sy sê die ondersoek sal op ‘n soortgelyke wyse as die Madlanga-kommissie aangepak word, met openbare verhore en bevindings wat aan die publiek bekend gemaak word. Sy wil verder hê groot stadskontrakte moet deeglik ondersoek word om aanspreeklikheid te versterk:
Intussen sê Al Jama-ah dienslewering en ekonomiese ontwikkeling is sentraal in sy verkiesingsmanifes wat in Soweto bekendgestel is. Die party se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, Ashley Mama, sê Al Jama-ah wil gebrekkige munisipale dienste herstel. Prioriteite sluit in die verbetering van toegang tot water, elektrisiteit, grond en behuising. Hy sê vennootskappe met die sakesektor en die nasionale regering kan werkskepping en plaaslike ondernemings bevorder, terwyl gemeenskapsveiligheid steeds belangrik bly te midde van uitdagings wat met migrasie verband hou:
# Pous Leo die Veertiende is terug in die Vatikaan, vier dae nadat hy ‘n operasie ondergaan het om ‘n gedeelte van sy regterlong te verwyder. Die 71-jarige pous het Saterdag op eie stoom uit die Gemelli-hospitaal in Rome gestap en pasiënte en ondersteuners gegroet. Dokters sê hy herstel goed en kan weer sy gewone daaglikse bedrywighede hervat. Daar is egter nog nie sekerheid of die kanker versprei en verdere behandeling nodig is nie. Die pous sal vandag se gebede lei uit sy woonstel wat oor die Sint-Pietersplein uitkyk.
# Rugby: Die Stormers het hul Kampioenebeker-veldtog afgeskop met ‘n oortuigende oorwinning van 49-12 oor die Bristol Bears in Kaapstad. Die tuisspan het sewe drieë aangeteken, met Leolin Zas en die senter Jonny Roche wat elk twee gedruk het met die ander deur Seabelo Senatla, Warrick Gelant en André-Hugo Venter. Losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu het al sewe verdoel. Haker JJ Kotze se rooikaart het die Stormers vir 20 minute met 14 spelers gelaat, terwyl Zas se geelkaart die span tydelik tot 13 spelers verminder het. Hulle het egter sterk geëindig met ‘n bonuspunt vir die aantal drieë.
# En krieket: Suid-Afrika hoop om terug te veg teen Australië in die tweede toets wat vanoggend om tienuur op St George’s Park in Gqeberha begin. Die snelbouler Kagiso Rabada is weer beskikbaar nadat hy herstel het van ’n dyspierbesering wat hom uit die eerste toets gehou het, wat Australië met 214 lopies gewen het. Kaptein Temba Bavuma sê Rabada se terugkeer sal die boulaanval versterk, maar die Proteas moet oral verbeter, veral ten opsigte van hul kolfwerk. Matthew Breetzke is ook by die span ingesluit, met Ryan Rickelton wat na verwagting as paaltjiewagter sal oorneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….