Nuus 08:00
BULLETIN 17 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC stel die publiek gerus dit gaan goed met Fikile Mbalula
# Stad Kaapstad vereer wetstoepassings- en brandbestrydingspersoneel vir dapper optrede
# En Downingstraat se kat weer terug na ’n operasie
# Die ANC sê sy sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, rus en herstel goed. Dit volg nadat hy Donderdag tydens ‘n inligtingsessie ineengestort het. Dit het gebeur kort nadat die Konstitusionele Hof, 181 ANC-kandidate toegelaat het om aan die verkiesing op 4 November deel te neem, ten spyte dat hulle nie sperdatums vir die indiening van dokumente in ses munisipaliteite gehaal het nie. Die ANC woordvoerder, Mahlengi Bhengu het die publiek vir hul ondersteuning bedank en ‘n beroep gedoen dat die privaatheid van die Mbalula-gesin gerespekteer moet word:
# President Cyril Ramaphosa sê betroubare elektrisiteit, goeie infrastruktuur en strategiese vennootskappe is belangrik om beleggings te lok en meer minerale plaaslik te verwerk. Hy het by die bekendstelling van Vedanta Zinc International se Gamsberg Fase Twee Uitbreidingsprojek in die Noord-Kaap gesê die uitbreiding sal werk skep en Suid-Afrika se posisie in die wêreld se sinkbedryf versterk. Hy sê plaaslike verwerking van minerale kan bydra dat die land groter ekonomiese voordeel trek uit natuurlike hulpbronne:
# Die Kaapstadse Direktoraat vir Veiligheid en Sekuriteit het personeellede tydens sy jaarlikse toekenningseremonie vereer vir dapperheid en uitmuntende diens. Die mariene wetstoepassingsbeampte Marco Africa is erken vir die redding van ‘n man wat in ‘n sleurstroom vasgevang was, terwyl die brandweerman Morne Moolman vereer is vir sy optrede toe hy ‘n kollega gehelp het wat ‘n elektriese skok opgedoen het. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, het die personeel geprys vir hul toewyding om die publiek te beskerm:
# President Volodymyr Zelensky van Oekraïne het ‘n Amerikaanse ooreenkoms om diesel van Rusland te koop, veroordeel en sê dit dra finansieel by tot die Kremlin se oorlogspoging. Hy het by ʼn Europese Unie-beraad in Brussel gesê president Vladimir Putin van Rusland stel nie regtig in vredesonderhandelinge belang nie. Zelensky verwelkom Europese leiers se groter rol om die oorlog te beëindig. EU-leiers skaar hulle by Oekraïne te midde van vrese dat Washington militêre en intelligensie-ondersteuning kan afskaal. Zelensky het ook gesê Oekraïne se Starshield-satellietdiens is nog nie ten volle herstel nie.
# Tennis: Die voormalige wêreld-nommer-een, Daniil Medvedev, het die Amerikaner, Tommy Paul, in drie stelle geklop om die Sjanghai Meesters se halfeindronde te haal. Die vyfde gekeurde Rus het herstel na ʼn terugslag in die tweede stel, en na 16 kishoue koning gekraai. Die 2019-kampioen kom teen die opkomende Spaanse ster, Rafael Jódar, te staan wat in drie stelle met Casper Ruud van Noorweë afgereken het. Die 20-jarige Spanjaard is die jongste halfeind-deelnemer in die Sjanghai Meesters se geskiedenis. Topgekeurde Alexander Zverev en Alejandro Davidovich Fokina spook sake uit in vandag se ander halfeindwedstryd.
# En ten slotte, Downingstraat 10 se beroemde kat Larry is weer katjie van die baan en terug by die Britse premier se ampswoning na ‘n operasie om ‘n sist te verwyder. Die 19-jarige muisvanger is buite die huis opgemerk met ‘n litteken en ʼn kaalgeskeerde kol op sy pels. Volgens eerste minister Andy Burnham se kantoor het Larry soos ‘n ware kat op sy pote geval en hy is druk besig om weer die muise te wys wie is baas. . Larry het in 2011 by nommer 10 ingetrek en het reeds sewe eerste ministers oorleef.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….