Nuus 17:00
BULLETIN 16 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC-Jeugliga vra dat alle DA-ministers uit RNE verwyder word
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement ontken die bestralingslisensies by Charlotte Maxeke-hospitaal is teruggetrek
# En, rugby: Die Bulle se afrigter glo die span kan ver in die Kampioenebeker vorder
# Die ANC-jeugliga vra president Cyril Ramaphosa om alle DA-ministers uit die regering van nasionale eenheid te verwyder en met ander politieke partye saam te werk om hulle te vervang. Dit volg nadat die DA sy teenkanting uitgespreek het oor die gunstige uitspraak in die ANC se saak in die Konstitusionele Hof om 181 kandidate op stembriewe vir volgende maand se plaaslikeregeringsverkiesing in te sluit. Die jeugliga se president, Collen Malatji, sê die party kan ander moontlikhede soos die EFF by die RNE insluit:
# President Cyril Ramaphosa het die tweede-fase uitbreiding van Vedanta Zinc International se Gamsberg-myn in die Noord-Kaap amptelik geopen. Die projek sal die myn se vermoë vanaf vier-miljoen na agt-miljoen ton per jaar verdubbel en die jaarlikse produksie van sink tot sowat 500-duisend ton verhoog. Die uitbreiding sal na verwagting tussen 800 en een-duisend werksgeleenthede ondersteun, met die fokus op werwing in die provinsie. Die regering sê vennootskappe tussen die sakewêreld, werkers en gemeenskappe is noodsaaklik om beleggings, vaardigheidsontwikkeling en inklusiewe ekonomiese groei te bevorder.
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement ontken berigte dat die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte lisensies vir bestralings-masjiene by die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal teruggetrek het. Die DA beweer die owerheid het lisensies vir twee lineêre versneller-masjiene teruggetrek weens ‘n tekort aan behoorlik gekwalifiseerde personeel. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê die twee masjiene moet nog vir kliniese gebruik goedgekeur word:
# Minstens drie mense in Oekraïne is dood in Russiese hommeltuigaanvalle, terwyl sowat 370-duisend mense sonder elektrisiteit is. Twee mense is dood en 12 beseer in aanvalle op die oostelike stad Kharkif. ‘n Hommeltuig het in die noordwestelike Volyn-streek, naby die Poolse grens, ‘n voedselverwerkingsaanleg getref, waarin een persoon dood is en agt beseer is. Aanvalle het ook winkelsentrums in Sumy and Rivne beskadig, waar sewe mense beseer is. Krag is intussen weer herstel na sowat 100-duisend mense, maar kragonderbrekings in die stad Lutsk kan nog minstens 24 uur duur.
# Rugby: Die Bulle se afrigter, Johan Ackermann, sê hulle het die krag en diepte om tot minstens die halfeindronde van die Kampioenebeker te vorder as die spelers fiks bly. Hulle begin die seisoen môre op Loftus Versfeld teen Stade Français. Ackermann het tien veranderinge aangebring aan die span wat die Leeus verlede week in die Verenigde Rugbykampioenskap geklop het. Ackermann sê dis ononderhandelbaar om tuiswedstryde te wen, maar die Franse is moeilike teenstanders:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-48-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-875-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-167-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 107-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….