Nuus 13:00
BULLETIN 16 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Cachalia verwelkom Masemola se terugkeer as die nasionale polisiekommissaris
# Eskom soek nuwe inkomste-strome terwyl die kragmark oopgestel word
# En rugby: Bordeaux-Bègles se spelers word op ‘n Britse lughawe voorgekeer weens ‘n dokumentasieprobleem
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, verwelkom die opheffing van nasionale kommissaris Fannie Masemola se tydelike skorsing nadat die aanklagte teen hom amptelik teruggetrek is. Cachalia het Puleng Dimpane bedank vir haar leierskap as waarnemende kommissaris. Woordvoerder Kamogelo Mogotsi sê Masemola se terugkeer Maandag sal help om die fokus op wetstoepassing te behou en die Polisie-herstelagenda verder bevorder, wat daarop gemik is om kundigheid, aanspreeklikheid en openbare vertroue te versterk:
# Forum for South Africa verwerp die Konstitusionele Hof-uitspraak oor die indiening van die ANC se kandidatelyste vir die munisipale verkiesing. Die ANC het die hof oortuig dat sy lyste steeds op die Verkiesingskommissie se databasis aanvaar moet word, al het hy nie op die finale indien-knoppie gekliek nie. Die OVK moet 181 ANC-kandidate in ses munisipaliteite op stembriewe plaas. Forum4SA se leier, Tebogo Mashilompane, sê dit laat kommer ontstaan oor die regsorde:
# Eskom ondersoek nuwe inkomste-strome namate Suid-Afrika sy elektrisiteitsmark oopstel en die kragvoorsiener se oorheersing verminder. Uitvoerende hoof Dan Marokane sê die hervormings is onomkeerbaar, met geleenthede in hernubare energie, die laai van elektriese voertuie, datasentrums en elektrisiteitsuitvoere. Hy sê Eskom is ondanks toenemende mededinging steeds ‘n belangrike streeksverskaffer van krag. Die nutsmaatskappy oorweeg dit ook om meer krag aan mynbedrywighede in buurlande te verskaf deur gebruik te maak van beskikbare opwekkings-vermoë om sy finansiële posisie te versterk terwyl die energiesektor hervorm.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, beskryf sy Oekraïnse ampsgenoot, Volodimir Zelensky, as ‘n sirkusmeester. Kiëf het aanvalle op Rusland se olieraffinaderye hervat nadat dit op versoek van Amerika gestaak is. Die Kremlin beskuldig Oekraïne dat hy gister ‘n grootskaalse aanval op ‘n raffinadery suid van Moskou probeer uitvoer het. Trump het aan Newsmax gesê Zelensky is minder bereid as die Russiese president, Vladimir Putin, tot ‘n ooreenkoms om die oorlog te beëindig:
# Rugby: Vyf spanlede van Bordeaux-Bègles sluit uiteindelik in Gloucester, Engeland, by die Franse groep aan nadat hulle eers toegang tot die land geweier is. Die vleuel Louis Bielle-Biarrey, die flank Romain Gardrat, die loskopstut Matis Perchaud, die vaskopstut Toma Taufa en ‘n fiksheidsafrigter is op die lughawe in Bristol voorgekeer omdat hulle nie geldige elektroniese reismagtiging gehad het nie, wat vereis word vir toegang tot Brittanje. Die Franse ambassade in Londen het ingegryp, waarna hulle Gloucester toe kon vertrek vir vanaand se Kampioenebeker-wedstryd teen die tuisspan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-48-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-61-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-188-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….