Nuus 11:00
BULLETIN 16 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa hef polisiekommissaris Fannie Masemola se skorsing op
# ‘n Man word aangekeer nadat hy versuim om voor die Madlanga-kommissie te verskyn
# En sokker: Gianni Infantino vra FIFA se raad om verskoning vir sy plan om die Wêreldbekertoernooi te privatiseer
# President Cyril Ramaphosa het die voorlopige skorsing van die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, opgehef. Hy is aangekla ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur oor ‘n tender van 360-miljoen-rand aan die vermeende misdaadbaas, Vusimuzi “Cat” Matala. Die aanklagte is verlede maand teruggetrek nadat die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings, Andy Mothibi, bevind het daar is geen redelike hoop op suksesvolle vervolging nie. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Masemola sal Maandag sy pligte hervat:
Die Nasionale Vervolgingsgesag het intussen bewerings ontken dat ‘n lasbrief uitgereik is vir die inhegtenisneming van die leier van die March and March-beweging, Jacinta Ngobese-Zuma, en haar man, Xolani. Woordvoerder Kaizer Kganyago sê die instelling neem onafhanklik vervolgingsbesluite wat gegrond is op die Grondwet, die wet en bewyse, sonder opdragte van politieke partye of openbare ampsdraers. Hy het organisasies gevra om nie ongegronde bewerings te maak wat die strafregproses kan ondermyn nie:
# Die Madlanga-kommissie se aanbevelingstaakspan het ʼn 49-jarige man in hegtenis geneem oomblikke voor hy ‘n internasionale vlug sou haal op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng. Die polisie sê hy is aangekeer omdat hy versuim het om voor die kommissie te verskyn. Die persoon is nog nie identifiseer nie, maar is volgens berigte ʼn sakeman van Noordwes wat vroeër die ANC se streeks-tesourier in die provinsie was. Hy sal na verwagting vandag in die Pretoriase Landdroshof verskyn.
Nuus uit die buiteland:
# Die ontsetelde Venezolaanse president Nicolás Maduro en sy vrou, Cilia Flores, het onskuldig gepleit op nuwe aanklagte van marteling wat Amerikaanse owerhede teen hulle ingebring het. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle toesig gehou het oor ‘n gewelddadige stelsel wat slagoffers, insluitend Amerikaanse burgers, in aanhouding gemartel het. Maduro het die nuwe aanklagte as vals bewerings afgemaak. Hy en Flores word reeds aangekla van dwelm- en vuurwapenhandel in Amerika, wat hulle ontken. Die verhoor sal nou op 14 Junie volgende jaar begin.
# Sokker: FIFA se president, Gianni Infantino, het verskoning gevra vir sy plan om die Wêreldbekertoernooi te privatiseer. Hy sê foute is gemaak wat tot baie gevolge gelei het. Hy het in Augustus ‘n omstrede plan geskrap om ‘n aandeel in die Wêreldbekertoernooi aan privaat beleggers te verkoop nadat bestuursliggame heftig beswaar gemaak het. Infantino het na gister se FIFA-raadsvergadering in Zurich gesê dit was nie bedoel om ondersteuning van bestaande bronne te vervang nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-47-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-46-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-184-dollar-6-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….