Nuus 09:00
BULLETIN 16 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank sê stygende wêreldwye energie- en voedselkoste hou risiko’s in vir inflasie in Suid-Afrika
# COSATU verwelkom die blokkering van ’n brandstofheffing-verhoging
# En ‘n Houthi-missielaanval eis die lewens van vyf mense by die presidensiële paleis in Jemen
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se president, Lesetja Kganyago, waarsku dat stygende wêreldwye energie- en voedselpryse bykomende inflasionêre druk op Suid-Afrika kan plaas en dit moeilik maak om verbruikerspryse onder beheer te bring. Inflasie sal vanjaar na verwagting gemiddeld 4,4-persent wees. Die sentrale bank verwag in 2027 ‘n geleidelike daling tot binne sy teiken-koers voor dit in 2028 na sy teiken van drie-persent terugkeer. Kganyago beskou geopolitieke spanning, stygende oliepryse, hoër kunsmiskoste, en moontlike onderbrekings in graanvoorraad deur die Swartsee as groot bedreigings vir die inflasie-verwagting.
# Die vakverbond COSATU verwelkom die minister van Vervoer, Barbara Creecy, se ingryping om nog ʼn verhoging in die brandstofheffing te keer. Sy het ʼn voorstel van die Padongelukkefonds om die POF-heffing tot drie-rand per liter te verhoog, afgekeur en sê verbruikers is reeds onder groot druk. COSATU-woordvoerder Matthew Parks sê werkers en die ekonomie steier onder die afgelope jaar se enorme brandstofprysstygings. Hy vra verdere verligting vir beleërde pendelaars voor die volgende brandstofprys-aanpassing aan die begin van November:
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, het die skietvoorval waarin drie vrouebestuurders by ‘n Boxer Superstore in Eshowe, KwaZulu-Natal, gesterf het, veroordeel. Na berig word het ‘n ongeïdentifiseerde gewese werknemer, wat van die polisie op vlug is, die drie bestuurders in ‘n kantoor toegesluit. Hy het toe ‘n vuurwapen uitgepluk en ‘n reeks noodlottige skote op hulle gevuur. Die woordvoerder van die departement, Thobeka Magcai, sê niemand behoort in sy werkplek vir sy lewe te vrees nie:
# Die Iran-gesinde Houthi-rebelle het vyf mense vermoor in ʼn missiel- en hommeltuigaanval op die presidensiële Al-Maashiq-paleis in Aden, hoofkwartier van die internasionaal erkende Jemen-regering. Dis die eerste aanval op die paleis in die huidige konflik tussen die Houthi’s en Saoedi-Arabië. Die oorledenes sluit twee lede van eerste minister Shaya Al-Zindani se veiligheidswagte en burgerlike werknemers by die regeringskompleks in. Sestien mense is beseer. Die Houthi’s beweer die aanval is deel van ’n verklaarde strategie om ontplooide militêre Saoedi-teikens aan te val, waar hulle ook al geleë is.
# Tennis: Die wêreld-nommer-drie, Carlos Alcaraz, sal aan die Weense Ope deelneem nadat Saoedi-Arabië se “Six Kings Slam” weens terreuraanvalle tot Desember uitgestel is. Die organiseerders sê hulle het dadelik met die Spanjaard se bestuur in aanraking gekom toe aanduidings van die uitstel na vore gekom het. Hulle beskryf Alcaraz se deelname as ‘n groot eer. Die Rus, Daniil Medvedev, die Italianer Flavio Cobolli en die Amerikaner Frances Tiafoe is die ander spelers uit die wêreld se top-tien wat reeds vir die toernooi aangekondig is. Die toernooi begin op die 26ste.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-46-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-909-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-178-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 107-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….