Nuus 07:00
BULLETIN 16 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die ANC-hofuitspraak wek ernstige kommer
# Minister Creecy sê die spoornetwerk moet die ruggraat van vervoer vorm
# En AfriForum gryp in nadat die polisie glo ’n slagoffer se aanrandingsdossier opsy skuif
# Die DA sê die Konstitusionele Hof se uitspraak in die saak oor die ANC-kandidaatslys wek ernstige kommer oor die presedent wat dit skep vir nakoming van die Verkiesingskommissie se spertye en vereistes. Die hoogste hof het die Kieshof se besluit dat 181 ANC-kandidate in ses munisipaliteite uitgesluit word van volgende maand se plaaslikeregeringsverkiesing, omgekeer. Ashor Sarupen van die DA sê die howe het tot dusver bevind dat streng, meganiese nakoming in elke saak vir spertye geld:
Die MK-party het intussen sy teleurstelling uitgespreek met die Konstitusionele Hof se uitspraak. Die MK-party sê hy is bekommerd dat die uitspraak ernstige kommer wek oor gelykheid voor die reg, die konsekwente toepassing van verkiesingsreëls, en openbare vertroue in onpartydige regspraak.
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê die regering is verbind tot die herstel van die land se spoornetwerk, die lok van privaat belegging en regshervorming om seker te maak dit duur voort ná die huidige administrasie. Die Nasionale Spoor-hoofplan identifiseer ‘n kern-spoornetwerk waarop die regering sy belegging sal fokus, terwyl privaat operateurs toegelaat word om geleenthede op ander spoorlyne te gebruik vir mynbou, landbou en toerisme. Creecy waarsku die pas van hervorming moet ruimte laat vir die ingewikkeldheid van die groter vervoerstelsel:
# AfriForum ondersteun ’n slagoffer van geslagsgeweld wat strafregtelike klagte teen twee polisiebeamptes ingedien het. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle haar aanrandingsaak gesluit het sonder om die ondersoek te voltooi. Emmah Mailula is na bewering in April by haar huis in Mamelodi aangerand. Die organisasie sê die polisie het die dossier as “teruggetrek” gemerk, ten spyte van ’n opdrag van die Nasionale Vervolgingsgesag om dit verder te ondersoek. Mailula sê die regstelsel het haar in die steek gelaat en sy vrees ander vroue ondergaan soortgelyke uitdagings:
# Rusland het in slegs ses weke byna die bou van ‘n groot nuwe basis vir die lansering van straalaangedrewe hommeltuie voltooi. Dit is volgens verdedigingskenners en ‘n ontleding van satellietbeelde deur Reuters, en vorm deel van die jongste uitbreiding van Rusland se aanvalsvermoë naby Oekraïne. Die konstruksie val saam met ‘n toename in die gebruik van Russiese straalaangedrewe aanvalshommeltuie teen Oekraïne, wat sukkel om hierdie vinniger wapens wat teen snelhede van tot 600-kilometer-per-uur kan vlieg, te onderskep. Kiëf verwag Rusland sal sy aanvalle met straalaangedrewe hommeltuie en missiele hierdie winter verder verskerp.
# Krieket: Die uitvoerende hoof van KwaZulu-Natal se Krieket-unie, Heinrich Strydom, sê hulle gaan ʼn deeglike interne ondersoek doen na die lae bywoningsyfer van die eerste toets tussen Suid-Afrika en Australië op Kingsmead in Durban. Net minder as 20-duisend toeskouers het die toets oor vyf dae bygewoon, wat die Proteas se eerste tuis-toets sedert Januarie 2025 was. Australië het met 214 lopies geseëvier. Strydom sê hulle moet na ondersteuners luister, weer met gemeenskappe in verbinding kom en maniere vind om toetskrieket meer toeganklik, interessant en aantreklik te maak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 18-rand-50-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-993-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-153-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 107-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….