Nuus 18:00
BULLETIN 15 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK is verbind tot die implementering van die Konstitusionele Hof-beslissing oor die ANC-kandidatelys
# SAFTU veroordeel die toenemende politieke geweld en moord
# En, tennis, die Six Kings Slam word tot Desember uitgestel na aanvalle in Saoedi-Arabië
# Die Verkiesingskommissie sê hy sal die Konstitusionele Hof se uitspraak implementeer, oor die ANC se 181 uitgeslote kandidate vir die plaaslike regeringsverkiesing van 4 November. Die uitspraak volg na ‘n regsgeding deur die ANC oor die indiening van sy lys. Die uitvoerende hoof van die kommissie, Sy Mamabolo, sê hulle sal meer besonderhede verskaf oor hoe die uitspraak geïmplementeer sal word sodra sy beoordelings afgehandel is. Hy voeg by voorbereidings vir die verkiesing is steeds ‘n prioriteit:
# Die adjunkpresident Paul Mashatile sê beleggingsbeloftes wat deur die Limpopo-beleggingskonferensie verkry is, het 452-miljard-rand oorskry, met meer as 71-miljard-rand wat reeds belê is. Tydens die 6de beleggingskonferensie het Mashatile gesê hierdie beleggings het gehelp om byna 24-duisend werksgeleenthede te skep. Mashatile sê Limpopo is goed geposisioneer vir verdere groei, en het mynbou, mineraalverwerking, landbou, vervaardiging en hernubare energie geïdentifiseer as sleutelsektore om beleggings te lok, die ekonomie uit te brei en meer werksgeleenthede te skep:
# Die vakbondfederasie SAFTU sê die toenemende politieke geweld en moord tref die hart van die land se demokrasie. Dit volg na die moord Dinsdagaand op twee ANC-jeuglede en twee ander in Katlehong, Ekurhuleni. Ten minste 43 mense is in die eerste nege maande van die jaar in vermeende politieke sluipmoorde dood. Asive Dyani van SAFTU sê dit kan nie toegelaat word dat politieke moorde aanvaar word as deel van verkiesings of die openbare lewe nie:
# Die voormalige Amerikaanse president Barack Obama het gewaarsku die neiging na ekstremisme is nie onvermydelik nie, en gesê sosiale media kan woede, vrees en wrok aanvuur. Obama het tydens ‘n toespraak gister in Glasgow, Skotland, gesê aanlyn platforms wat voorheen gehelp het om mense rondom demokrasie en menseregte te mobiliseer, word nou ook deur haatgroepe gebruik. Hy het gevra vir strenger reëls om diegene wat waninligting versprei en geweld aanhits, aanspreeklik te hou. Obama het mense ook aangemoedig om demokrasie te beskerm en te bly glo die samelewing is tot meer in staat.
# Tennis: Die ‘Six Kings Slam’-toernooi is van hierdie maand na die einde van Desember uitgestel ná dodelike aanvalle in Saoedi-Arabië. Saterdag se aanval op die internasionale lughawe in Riaad, waarin minstens 12 mense dood en honderde beseer is, word beskryf as die dodelikste aanval in die koninkryk in meer as ‘n dekade. Die organiseerders van die toernooi sê hulle is daartoe verbind om sportgeleenthede van die hoogste gehalte aan te bied. Carlos Alcaraz van Spanje, Novak Djokovic van Serwië, Alexander Zverev van Duitsland en Taylor Fritz van Amerika het reeds hul deelname aan die toernooi bevestig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 18-rand-54-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-590-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-151-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 107-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….