Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 15 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, rugby: Die All Blacks se afrigter, Dave Rennie, het agt veranderings aangebring aan sy groep vir Saterdag se tweede Bledisloebeker-toets teen die Wallabies in Sydney. George Bower skuif van die bank na loskopstut en Fabian Holland is Scott Barrett se slotmaat in die opdrafspan. Josh Moorby, wat op die bank begin het in die oorwinning op Edenpark, begin op linkervleuel. Samisoni Taukei’aho, Xavier Numia, Du’Plessis Kirifi, Cortez Ratima en Timoci Tavatavanawai is op die bank gekies.
Nog rugby: ‘n Nuwe reël in die Kampioenebeker beteken ‘n aanvalsbonuspunt word slegs verdien as ‘n span drie of meer drieë meer as sy teenstander druk. Voorheen is dit toegeken vir die druk van vier of meer drieë. Die beheerliggaam hoop dit sal spanne aanmoedig om vir die volle 80 minute hoë standaarde te handhaaf. Die Stormers speel die naweek in die openingsronde in Kaapstad teen Bristol Bears, die Bulle kom op Loftus teen Stade Français te staan, en die Leeus speel teen La Rochelle in Frankryk.
# Krieket: Die gewese Protea-kaptein en -snelbouler, Shaun Pollock, sê skeidsregters moet toegelaat word om van ‘n rooi na ʼn pienk bal oor te skakel sodat spel kan voortgaan. Spel moes vroeg gestaak word op die eerste drie dae van die eerste toets tussen Suid-Afrika en Australië in Durban weens swak lig. ʼn Pienk bal mag gebruik word indien albei spanne vooraf instem. Pollock verstaan nie die stigma wat aan die pienk bal kleef nie:
Ander krieketnuus: Engeland het besluit om sekere spelers te laat rus voor die toetsreeks in Suid-Afrika, en hulle sal nie aan volgende maand se witbaltoer na Australië deelneem nie. Die toer, wat op 13 November begin, bestaan uit drie eendagwedstryde en vyf T20-wedstryde. Dit eindig op 2 Desember, slegs ‘n week voor Engeland se opwarmingswedstryd in Suid-Afrika wat die reeks van drie toetse teen die Proteas voorafgaan. Thomas Rew en Eddie Jack kan moontlik hul eerste wedstryde vir Engeland in Australië speel.
# En tennis: Die Amerikaner, Ann Li, het haar grootste oorwinning tot dusver behaal toe sy die driemalige kampioen, Aryna Sabalenka, op die Wuhan Ope verslaan het. Die Belarus het nege wedstrydpunte afgeweer voor die 31ste geplaaste Li uiteindelik geseëvier en na die laaste 16 deurgedring het. Jelena Ostapenko van Letland het met die tweede-gekeurde Amerikaner, Jessica Pegula, afgereken terwyl Karolina Muchova van die Tsjeggiese Republiek teruggeveg en die Amerikaanse kwalifiseerder, Caty McNally, geklop het. Die Brit, Sonay Kartal, het die wêreld-nommer-12, Belinda Bencic van Switserland, verslaan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….