Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 15 Oktober 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig COSATU sal beide die ANC en die SAKP in die plaaslikeregeringsverkiesing steun. Die besluit deur die vakverbond tydens sy nasionale kongres is daarop gemik om eenheid in die federasie te handhaaf.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ‘n ma van Atlantis word aangekla van die verkragting van haar tienjarige dogter en agtjarige seun.
En tweedens berig die webblad drie verdagtes is doodgeskiet tydens ‘n transitorooftog in Umlazi, Durban.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf miljoene Suid-Afrikaners wat op maatskaplike toelaes staatmaak, sal hul betalings vir November op hersiene datums ontvang – met ouer persone wat hul geld reeds op 30 Oktober kan kry. Dit volg nadat veranderinge deur die Nasionale Tesourie goedgekeur is in die aanloop tot die komende plaaslikeregeringsverkiesing.
En tweedens word berig ’n 45-jarige voormalige onderwyser van die Oos-Kaap, Lunga Nkrumah Sivuku, is tot agt jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig gepleit het op aanklagte van bedrog, vervalsing en die uitgee van vervalste dokumente, wat verband hou met die bedrieglike gebruik van opvoedkundige kwalifikasies.
# Sowetan:
Berig oor die moorde op vier mense ná ‘n ANC-jeugligabyeenkoms in Kathlehong aan die Oos-Rand. Die pa van die 23-jarige Njabulo Ncongo het aan die koerant vertel van sy stryd om se seun te red.
# En The Citizen:
Skryf die beweerde 18-jarige verkragtingslagoffer van die gewese adjunkkommisaris van die polisie, Shadrack Sibiya, sê sy vrees vir haar lewe indien hy borgtog ontvang.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig ‘n boer en twee plaaswerkers is dood en nog 12 mense is vir mediese behandeling geneem nadat hulle aan ‘n giftige stof blootgestel is terwyl hulle ‘n kunsmistenk op ‘n plaas naby Heroldsbaai, George, skoongemaak het.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n erdvark wat sy eie slaggate in ‘n teerpad grawe.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n ondersoeker van die Valke, Xolani Busakwe, word aangekla van ontvoering, roof en afpersing wat verband hou met die moord op die staatsaanklaer, Tracy Brown.
En tweedens skryf die koerant die owerhede is bekommerd na ‘n uitbreking van bek-en-klouseer in die Addo-olifantpark aan die lig gekom het.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die veroordeelde padwoedemoordenaar, Anthony Ball, is in die tronk oorlede. Hy is in 2022 skuldig bevind aan die moord op Dean Charnley in Kloof en is tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig ’n DNS-deurbraak het ’n 18-jarige man verbind met die moorde op Ingrid Maasdorp en Roswinds Fabianu in Okahandja verlede jaar.
Dan skryf die koerant verpligte inenting teen bek-en-klouseer het in die Kharasstreek begin.
En laastens is daar nuus oor die noordweste van Namibië se woestynaangepaste olifante wat die hoofkarakters is in die hartroerende wenfoto van ’n internasionale topfotograaf.