Nuus 08:00
BULLETIN 9 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die Staatsrede was ‘n wasgoedlysie van herwinde beloftes
# Oekraïne se topbevelvoerder is afgedank in die land se grootste militêre skommeling
# En krieket, Durban’s Super Giants is deur na die S20-eindstryd
# Die DA-leier John Steenhuisen beskryf president Cyril Ramaphosa se staatsrede as ‘n wasgoedlysie van herwinde beloftes. Dit was die sesde administrasie se laaste staatsrede voor die algemene verkiesing later vanjaar. Steenhuisen sê nie een van die beloftes wat Ramaphosa in sy laaste vyf Staatsredes gemaak het, is nagekom nie. Hy voeg by nie ʼn enkele stuk pragmatiese, werkbare wetgewing is aan die Parlement voorgelê om sy sogenaamde nuwe daeraad te laat realiseer nie:
Intussen sê ActionSA president Cyril Ramaphosa het die vordering wat die ANC onder president Nelson Mandela en Thabo Mbeki gemaak het, gebruik maar homself verwyder van die mislukking en korrupsie in president Jacob Zuma se staatskapingstermyn. Ramaphosa het gisteraand sy staatsrede gelewer. Athol Trollip van ActionSA sê die werklikheid is dat ingrypings wat min uitwerking gehad het, byna niks gedoen het om ware aanspreeklikheid vir korrupsie te toon, beurtkrag aan te spreek, onderwys-uitkomste te verbeter of die ekonomie wat werksgeleenthede vernietig te laat groei nie:
# Die Pretoriase Batebeslagleggingseenheid van die Nasionale Vervolgingsgesag het in ʼn voortgesette ondersoek na ʼn goudmyn-sindikaat in Khutsong en Carletonville nog ʼn bewaringsbevel vir drie-miljoen-rand bekom. Hulle het beslag gelê op huise, voertuie en geld wat aan sewe mense behoort wat met die sindikaat verbind word. Die NGV sê die Batebeslagleggingseenheid het verlede jaar reeds drie bewaringsbevele gekry wat met hierdie saak verband hou. Hy sê die vier bevele het betrekking op meer as 20-miljoen-rand en bestaan uit 55 voertuie, tien eiendomme, asook 91-duisend-rand kontant en ander waardevolle bates.
# Oekraïne se president, Volodymyr Zelensky, het sy top-weermagbevelvoerder, Valerii Zaluzhnyi, afgedank en sê dis tyd vir hernuwing in die gewapende magte. Dis die grootste verandering aan die land se militêre leierskap die afgelope twee jaar. Zaluzhnyi se plaasvervanger is Oleksandr Syrskyi, wat sedert 2019 bevelvoerder van die Oekraïnse landmagte was. Zelensky ontken enige politieke beweegredes vir sy besluit en sê die moeilike situasie waarin soldate in die voorste linie van die oorlog met Rusland hulle bevind, vereis ʼn nuwe benadering.
# Krieket: Durban’s Super Giants het hulle plek in die SA20-eindstryd bespreek nadat hulle die Joburg Super Kings op die Wanderers met 69 lopies verslaan het. Heinrich Klaasen het 74 van net 30 balle gemoker en Wiaan Mulder spog met ʼn onoorwonne vyftigtal om die Super Giants se telling 211 vir ses te maak. Daarna het Junior Dala vier paaltjies platgetrek en die Super Kings was op 142 almal uit. Durban’s Super Giants takel môre op Nuweland die verdedigende kampioene, die Sunrisers Eastern Cape. Mulder sê dis vir die span belangrik om konsekwent te wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-95-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent tee7 die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 46-duisend-83-dollar-47-sent. Die prys van goud is twee-duisend-33-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….