Nuus 06:00
BULLETIN 15 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile sê die oorgang na ‘n volhoubare ekonomie moet almal insluit
# Verdere brandstofprysstygings word in November verwag
# En ‘n dokumentêr oor draadkarre in die Karoo is vir ‘n Emmy benoem
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die dringendste nasionale taak is om sterker groei te bewerkstellig en werk te skep om armoede en ongelykheid aansienlik te verminder. Hy was gister die hoofspreker tydens FEDUSA se agtste nasionale kongres in Kemptonpark, Gauteng. Die ekonomie het in die tweede kwartaal van vanjaar met 0,2-persent gekrimp, terwyl die amptelike werkloosheidskoers op 33,6-persent staan. Mashatile sê die behoud van werkgeleenthede moet ‘n meer doelbewuste deel van nywerheidsbeleid word:
# Die pasverkose COSATU-president, Mike Shingange, het gevra vir eenheid binne die vakbondfederasie en die drieledige alliansie. Hy is gister tydens die federasie se 15de nasionale kongres in Kemptonpark, Gauteng, verkies. Hy het 973 stemme op hom verenig en volg vir Zingiswa Losi op, wat as hoofsekretaris verkies is. Ten spyte van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party se besluit om onafhanklik van die alliansie aan die plaaslikeregeringsverkiesing in November deel te neem, sê Shingange die kongres het besluit om die ANC en die SAKP te steun:
# Suid-Afrikaanse motoriste kan volgende maand verdere brandstofprysstygings verwag, hoewel die jongste ramings laer is as wat aanvanklik gevrees is. Vroeë skattings het daarop gedui dat die prys van petrol met meer as vier-rand per liter kon styg. Die jongste syfers van die Sentrale Energiefonds dui egter op stygings van ongeveer een-rand-80-sent per liter vir petrol en een-rand vir diesel. Die ramings is afhanklik van internasionale oliepryse en die wisselkoers tussen die rand en die dollar. Die finale pryse sal teen die einde van die maand deur die Departement van Minerale en Petroleum Hulpbronne bevestig word.
# Die Amerikaanse Kamer van Koophandel in Oekraïne sê Rusland teiken Amerikaanse sakeondernemings in Kiëf, met geen reaksie van die Withuis nie. Russiese missiele en hommeltuie het instellings beskadig van sommige van Amerika se bekendste handelsmerke, insluitend Coca-Cola, PepsiCo, McDonald’s en Oreo. Die kamer se president, Andy Hunder, sê hy vind dit moeilik om die relatiewe stilswye van president Donald Trump oor die kwessie te verstaan – veral nadat sy regering so sterk na vore gekom het as voorstanders van Amerikaanse sakebelange. ‘n Amptenaar van die Withuis sê die regering bly daartoe verbind om te help om ‘n einde aan die oorlog te bring.
# Die hoofafrigter van die Haaie, JP Pietersen, het ‘n groep van 28 spelers gekies wat vandeesweek vertrek vir die span se drie oorsese wedstryde wat oor die volgende drie naweke in Frankryk, Wallis en Ierland plaasvind. Die groep bestaan uit 17 voorspelers en 11 agterspelers, met versterkings wat soos die toer vorder, gestuur sal word. Verskeie Springbokke is deel van die Haaie se span maar hulle is tans met verpligte rusverlof na ‘n uitmergelende paar maande se rugby. In hul eerste wedstryd aanstaande Saterdag kom die Haaie teen Lyon te staan in die Uitdaagbekerkompetisie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 18-rand-53-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-354-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-111-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 108-dollar-22-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Dokumentêre program oor kinders wat in Philipstown in die Noord-Kaap met handgemaakte draadkarre resies jaag, is vir ‘n Emmy benoem. Die Philipstown WireCar Grand Prix volg kinders wat motors uit afvalmateriaal bou en daarmee oor ‘n afstand van drie kilometer resies jaag. Die rolprent is een van vier benoemings in die kategorie vir sportdokumentêre programme en ding mee teen produksies uit Brasilië, Spanje en Brittanje. Die Suid-Afrikaanse program is gemaak om die dorp te bevorder en steun te werf vir programme wat die dorp se jongmense bevoordeel. Die seremonie is op 23 November in New York.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….