Nuus 18:00
BULLETIN 14 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK verskerp verkiesingsvoorbereidings met die stemdag van 4 November wat nader kom
# Die bek-en-klouseer-uitbreking in Addo lei tot oproepe vir strenger beheer oor rondlopervee
# En, tennis: Alexander Zverev sien uit na die verantwoordelikheid om boaan die wêreldranglys te wees
# Die Verkiesingskommissie sê voorbereidings vir die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November vorder goed, met meer as 66-persent van die 79-miljoen stembriewe wat reeds gedruk is. Sy Mamabolo het aan die media gesê al 23-duisend-696 stemlokale is opgestel, terwyl die werwing en opleiding van verkiesingsbeamptes aan die gang is. Mamabolo het bygevoeg die kommissie het ook 109 waarnemerorganisasies geakkrediteer en met werk saam met aanlynplatforms om waninligting oor die verkiesing te bekamp.
# Die vakbondfederasie COSATU het Mike Shingange as sy nuwe president verkies. Die federasie se uittredende president, Zingiswa Losi, is die nuwe hoofsekretaris verkies. Meer as een-duisend-800 afgevaardigdes het tydens die federasie se 15de nasionale kongres in Kempton Park gestem. Shingange het vir Mabutho Cele verslaan, terwyl Losi die uittredende hoofsekretaris, Solly Phetoe, geklop het. Susan Khumalo is as eerste adjunkpresident verkies, Mbali Blose as tweede adjunkpresident en General Twaka as adjunkhoofsekretaris. Kgomotso Makhupola is die nuwe tesourier.
# Die DA vra die Oos-Kaapse regering om maatreëls te verskerp om die verspreiding van bek-en-klouseer te voorkom nadat die siekte by koedoes in die Addo-olifant Nasionale Park bevestig is. Die bron van die besmetting en enige moontlike verband met ander uitbrekings word steeds ondersoek. Die DA-lid Heinrich Müller dring aan op beter monitering in natuurreservate, strenger beheer oor rondlopervee, verbeterde omheining en voldoende veeartsenykundige ondersteuning en inenting:
# Die voormalige Amerikaanse visepresident Kamala Harris het gewaarsku tyd raak min om veiligheidsreëls vir kunsmatige intelligensie in plek te stel. Sy het gister in Suid-Korea gepraat en die risiko’s uitgelig, insluitend kuberaanvalle, KI-aangedrewe wapens en stelsels wat menslike beheer kan vryspring. Harris het regerings en tegnologiemaatskappye aangemoedig om vinnig op te tree en KI-ontwikkelaars te betrek by die daarstelling van voorsorgmaatreëls. Sy het ook ‘n beroep op Amerika en China gedoen om saam te werk aan internasionale reëls, ten spyte van hul politieke wedywering.
# Tennis: Die tweemalige Grand Slam-kampioen Alexander Zverev sien uit na die verantwoordelikheid om wêreld-nommer-een te wees. Die 29-jarige Duitser het die posisie Maandag beklink. Hy het eers drie Grand Slam-eindstryde verloor voor hy in Junie sy eerste titel opgeraap het in die Franse Ope, gevolg deur sy tweede in die Amerikaanse Ope. Zverev erken die werklikheid om die boonste posisie te bereik, het nog nie ten volle ingesink nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-63-sent teen die dollar, 18-rand-48-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-86-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-92-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 107-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….