Nuus 17:00
BULLETIN 14 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK keur ’n rekord-aantal van 2,6-miljoen aansoeke om spesiale stemme goed
# Shadrack Sibiya se klaers vrees vir hul veiligheid indien hy borgtog kry
# En, ‘n Japannese joernalis in Rusland aangehou op spioenasieklagte
# Die Verkiesingskommissie het ‘n rekordaantal van 2,6-miljoen aansoeke om spesiale stemme goedgekeur voor die plaaslike verkiesing op 4 November. Dit verteenwoordig ‘n toename van 131-persent vergeleke met die verkiesing van 2021. Spesiale stemme sal op 2 en 3 November uitgebring word deur mense wat nie op verkiesingsdag kan stem nie. Die hoofuitvoerende beampte van die OVK, Sy Mamabolo, het aan die media gesê Gauteng het die hoogste aantal goedgekeurde spesiale stemme, gevolg deur die Oos-Kaap:
# Twee beweerde slagoffers in die verkragtings- en seksuele gereedmaking-saak teen die voormalige adjunk-nasionale polisiekommissaris Shadrack Sibiya, het die Landdroshof in Randburg gevra om hom in aanhouding te hou. Hulle het in slagofferverklarings wat in die hof voorgelees is, vrese geopper oor hul veiligheid indien Sibiya op borgtog vrygelaat word. Die 16-jarige klaagster beweer Sibiya het haar pa gedreig, terwyl ‘n 18-jarige beweer ‘n vriend is genader om ‘n ander weergawe van gebeure voor te hou:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die regering se nuwe waterstrategie dui nie duidelik aan wanneer probleme opgelos sal word, hoe verbeterings befonds gaan word of wie aanspreeklik gehou sal word nie. OUTA steun planne om waterverliese te verminder, infrastruktuur te herstel en geskikte personeel aan te stel, maar sê van die teikens vir 2030 gaan waarskynlik eers teen 2035 bereik word. Woordvoerder Julius Kleynhans sê amptenare moet aanspreeklik gehou word:
# Rusland het die Japannese joernalis Yuki Imai in hegtenis geneem omdat hy na bewering op die land se militêre vermoëns spioeneer. Die verslaggewer van Hokkaido Shimbun is op die eiland Sachalin aangehou en na Moskou geneem. Die Russiese staatstelevisie wys hom tydens ‘n hofverskyning in ‘n metaalhok. Die Russiese nuusagentskap Interfax berig Imai sal tot 12 Desember in aanhouding bly as verhoorafwagtende. Hy kan tot 20 jaar tronkstraf opgelê word indien hy skuldig bevind word. Japan versoek inligting van die Russiese owerhede en dring aan op billike behandeling.
# Die sesmalige Grand Slam-kampioen, Iga Swiatek, het haar Poolse landgenoot, Magdalena Frech, maklik in die Wuhan Ope in China se ronde van 32 geklop. Sy het haar 40ste oorwinning van die seisoen behaal en is steeds op koers vir ‘n moontlike kwarteindstryd teen die driemalige kampioen, Aryna Sabalenka van Belarus. Die wêreld-nommer-170, Sonay Kartal van Brittanje, het haar terugkeer gevier ná ‘n lang afwesigheid weens beserings toe sy die negende gekeurde Belinda Bencic van Switserland klop. Kartal sal in die ronde van 16 teen die 15de gekeurde Jasmine Paolini van Italië te staan kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 18-rand-45-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-822-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-101-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 108-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….