Nuus 15:00
BULLETIN 14 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Matlala laat vaar sy borgtogaansoek in ‘n eiendomsbedrogsaak
# BOSA oorhandig 20-duisend handtekeninge vir toegang tot die Register vir Seksoortreders
# En krieket: Die Protea-afrigter oorweeg veranderings vir die tweede toets
# Die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala het sy borgtogaansoek teruggetrek in die Landdroshof in Pretoria. Hy word aangekla van bedrog, vervalsing en die gebruik van vervalste dokumente oor ‘n beweerde bedrieglike huurooreenkoms vir ‘n luukse eiendom in Waterkloofhoogte, teen 95-duisend-rand per maand. Die staat voer aan Matlala, sy vrou Tsakane, en nog twee beskuldigdes het dokumente vervals om die huurooreenkoms te bekom. Sy regsverteenwoordiger sê hulle kan weer borgtog vra ná die verrigtinge in die Hooggeregshof in Johannesburg, waar Matlala en sy medebeskuldigdes aangekla word van poging tot moord.
# Build One South Africa het vanoggend opgeruk na die Departement van Justisie in Tshwane om te eis dat die Nasionale Register vir Seksoortreders toeganklik is vir die publiek. ‘n Versoekskrif met byna 20-duisend handtekeninge is oorhandig. Woordvoerder Nobuntu Webster sê die register bevat duisende veroordeelde seksoortreders, maar openbare toegang kos 150-rand, met ‘n wagtydperk van ses weke. Sy sê 93-persent van volwassenes wat in skole werk, is nog nie teen die register nagegaan nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Turkse polisie het in Istanboel toegeslaan op die kantore van die opposisie-uitsaaier, Halk TV, en regstreekse uitsendings gestaak. Die televisiestasie sê honderde polisielede het vroegoggend die gebou betree, personeel toegang geweier en regstreekse uitsendings met vooraf opgeneemde programme vervang. ‘n Bestuurder wat deur die regering aangestel is, het beheer oorgeneem. Aanklaers sê die optrede hou verband met ‘n ondersoek na bewerings van omkopery, bedrog met openbare kontrakte en geldwassery wat die stasie se eienaar betrek. Die bewerings is nog nie in ‘n hof bewys nie.
# Krieket: Die Proteas se afrigter, Shukri Conrad, sê dis nie nou tyd vir ondeurdagte reaksies na hulle nederlaag teen Australië in die eerste toets in Durban nie. Hy beklemtoon daar is geen verskonings nie, maar wys op die invloed van talle beserings, veral dié van die snelbouler Kagiso Rabada. Hy behoort te kan speel in die tweede toets in Gqeberha, waarskynlik ten koste van Anrich Nortjé. Conrad gaan ‘n paar veranderings aanbring:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-43-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-375-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-142-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 108-dollar-44-sent per vat.
# En ten slotte: FNB het die afgelope boekjaar ‘n toename van 47-persent in die waarde van digitale kaart-transaksies aangeteken, wat dui op ‘n groeiende aanvaarding van veilige digitale betaal-oplossings. Die bank sê dit weerspieël veranderende betaalgewoontes in sy digitale ekostelsel, wat meer as 19-miljoen gereelde platformgebruikers en meer as 12-miljoen kliënte bedien. Virtuele kaarte word toenemend gebruik vir aanlyn inkopies, betalings in winkels, reisbesprekings en intekeningdienste. FNB sê die volgehoue toename in die gebruik van digitale betaal-oplossings weerspieël ‘n groeiende vraag na veiliger en geriefliker betaalmetodes.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….