Nuus 14:00
BULLETIN 14 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SANParke bevestig ‘n bek-en-klouseer-uitbreking in die Addo-olifantpark
# Russiese aanvalle ontwrig kragvoorsiening aan 600-duisend mense in Oekraïne
# En drie Russiese gimnaste word visums geweier vir die wêreldkampioenskap in Rotterdam
# SANParke het ‘n uitbreking van bek-en-klouseer onder koedoes in die Addo-olifant-nasionale park in die Oos-Kaap bevestig. Woordvoerder JP Louw sê lamheid is onder die diere opgemerk. Aanvanklike toetse was negatief, maar ‘n tweede reeks toetse het positief getoon. Geen ander wildspesies toon kliniese tekens nie. Louw sê die positiewe uitslag dui nie op die bron of ‘n verband met ander uitbrake in die provinsie nie. Bio-sekerheidsmaatreëls is verskerp, insluitend die ontsmetting van voertuie. Louw sê geen gesplete hoefdiere mag die park binnegaan of verlaat sonder veeartsenykundige magtiging nie.
# Die polisie het die afgelope week 16-duisend-380 verdagtes aangekeer tydens ‘n landwye Operasie Shanela-optrede. Die verdagtes is vir verskeie misdade aangekeer. Dit sluit in twee-duisend-165 wat weens geweldsmisdaad gesoek is. Hulle is in verskeie provinsies nagespoor en in hegtenis geneem. Woordvoerder Vincent Mukhathi sê wat geslagsgeweld en vrouemoord betref, is 169 verdagtes vasgetrek weens verkragting, 155 vir moord en 140 vir poging tot moord:
Nuus uit die buiteland:
# Russiese missiel- en hommeltuigaanvalle het die elektrisiteitsvoorsiening aan minstens 600-duisend mense in Oekraïne ontwrig. President Volodimir Zelensky sê die hoofstad, Kiëf, en die stad Kharkiv is getref tydens die nagtelike aanvalle. Minstens drie mense is dood en 21 beseer. Zelensky sê die aanvalle het talle energie-aanlegte beskadig en vrese neem toe vir verdere kragonderbrekings. Hy beskuldig Rusland daarvan dat hy die Amerikaanse president, Donald Trump, se voorgestelde staking van aanvalle op energie-infrastruktuur ignoreer.
Nou sportnuus:
# Die Russiese Gimnastiek-federasie het Nederland gekritiseer vir sy weiering om visums uit te reik aan drie Russiese gimnaste vir die Wêreld-sier-gimnastiek-kampioenskap wat Saterdag in Rotterdam begin. Hulle is die heersende vroue-wêreldkampioen, Angelina Melnikova, Viktoria Listunova en Anna Kalmykova. Die federasie bestempel die besluit as diskriminasie en ‘n skending van die beginsels van gelyke deelname, en gaan na Wêreld-gimnastiek en die Internasionale Komitee appelleer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 18-rand-44-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-276-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-141-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 108-dollar-72-sent per vat.
# En ten slotte: Die Universiteit Stellenbosch vra ‘n omvattende benadering tot die ondersteuning van topatlete se geestesgesondheid. Die sielkundige Leslie Swartz sê daar word van hul verwag om op hulle beste te presteer terwyl hul buitengewone eise van kompetisies op die hoogste vlak moet hanteer. Hy sê om hul geestesgesondheid te ondersteun verg meer as om probleme aan te pak wanneer dit ontstaan. Swartz vra proaktiewe, persoonlike ondersteuning, ondersteunende oefen-omgewings, asook sterk leierskap- en beskermingstelsels:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….