Nuus 12:00
BULLETIN 14 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zuma en Thales word in 2027 verhoor ná hulle versuim om teen ‘n hofbeslissing te appelleer
# Basiese Onderwys verwelkom die gladde begin van die matriekeksamen
# En sokker: Banyana Banyana is deur na die derde kwalifiseringsronde vir 2028 se Olimpiese Spele in Los Angeles
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê die verhoor in die voortslepende wapen-korrupsiesaak teen oudpresident Jacob Zuma en die Franse wapenmaatskappy Thales begin op 1 Februarie volgende jaar. Dit volg nadat hulle versuim het om aansoek te doen om verlof tot appèl teen die uitspraak van die KwaZulu-Natalse Hooggeregshof dat die verhoor kan voortgaan. Die NVG sê geen verdere aansoeke om verlof tot appèl is uitstaande nie. Zuma en Thales het in 2021 onskuldig gepleit op aanklag van afpersing, bedrog, korrupsie en geldwassery.
# ‘n Strafregtelike klagte van bedrog van meer as 22-miljoen-rand is aanhangig gemaak teen die kaartjieverskaffer Adriaan Pieterse nadat kopers na bewering nie hul kaartjies ontvang het vir verskeie groot sportbyeenkomste nie. Die gasvryheidsagentskap Leisure Connexion en sy eienaar, Adelbert Retief, het die klagte ingedien. News24 berig die beweerde verliese sluit sowat 11-miljoen-rand in vir kaartjies vir die UEFA-Kampioeneliga en 7,88-miljoen-rand vir die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks. Pieterse ontken enige oortreding en sê die kaartjies is verskaf, terugbetalings is waar nodig gedoen en eintlik is geld aan hom verskuldig.
# Die Departement van Basiese Onderwys verwelkom die positiewe begin van die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen. Die eind-eksamen het gister begin, en meer as 800-duisend voltydse en deeltydse kandidate het hul eerste vraestelle geskryf. Woordvoerder Terence Khala sê daar was geen noemenswaardige voorvalle nie. Hy bedank onderwysers, ouers en amptenare vir hul bydrae om ‘n gladde verloop van die eksamen te verseker en wens die Klas van 2026 sterkte toe:
Nuus uit die buiteland:
# Die Britse eerste minister, Andy Burnham, ontvang vandag die Oekraïnse president, Volodimir Zelensky, in Downingstraat 10. Die ontmoeting vind plaas teen die agtergrond van die Amerikaanse president, Donald Trump, se besluit om sanksies op Russiese diesel te verlig. Burnham sal waarskynlik tydens die besoek versnelde militêre steun aan Kiëf en verdere sanksies teen Moskou aankondig. Hy sal ook planne herbevestig vir die volledige inwerkingstelling van ‘n verbod op maritieme dienste vir Russiese uitvoere van vloeibare gas. Burnham sê Brittanje se steun aan Oekraïne is onwankelbaar.
# Sokker: Banyana Banyana is deur na die derde kwalifiserende ronde vir 2028 se Olimpiese Spele in Los Angeles danksy ‘n oortuigende gemiddelde oorwinning van 7-0 oor Madagaskar in Bloemfontein. Suid-Afrika het die tweede wedstryd 3-0 gewen danksy ‘n doel deur Gabriela Moodaly-Salgado en twee deur die plaasvervanger Ronnel Donnelly. 2022 se Afrika-kampioen speel vroeg volgende jaar in die derde ronde teen Angola. Banyana se afrigter, Desiree Ellis, is tevrede met die algehele vertoning:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-46-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-741-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-151-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….