Nuus 11:00
BULLETIN 14 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Manamela aanvaar ‘n hofuitspraak oor die hoof van die Nasionale Vaardigheidsfonds
# Suid-Afrikaanse huishoudings se kans om honger te ly was verlede jaar die hoogste sedert 2010
# En sokker: Banyana Banyana is deur na die derde kwalifiseringsronde vir 2028 se Olimpiese Spele in Los Angeles
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, gaan die Arbeidshof-uitspraak oor die uitvoerende hoof van die Nasionale Vaardigheidsfonds ten volle aanvaar. Die hof het ‘n tussentydse interdik uitgereik wat sy opdrag om die pos weer te adverteer, ophef aangesien die werwingsproses afgehandel en ʼn kandidaat aanbeveel is. Woordvoerder Matshepo Seedat sê Manamela bly verbind tot wettige, regverdige en deursigtige werwingsprosesse, goeie regering en die doeltreffende werking van die fonds:
# Voedselsekerheid in Suid-Afrika het verlede jaar verswak, met 12-persent huishoudings en 14,7-persent individue wat honger gely het. Dit is volgens die Shoprite-groep se 2026 Suid-Afrikaanse Voedselsekerheids-aanwyser. Die land se algehele voedselsekerheidsyfer het verlede jaar tot 52,6 gedaal teenoor 56,5 in 2024. Die rede is voedsel-inflasie wat die beskikbaarheid van kos verminder het, terwyl toegang tot kos en verskeidenheid bestendig gebly het. Sanjeev Raghubir van die Shoprite-groep sê stygende elektrisiteitskoste, vervoer en ander noodsaaklike koste beperk huishoudelike begrotings. Hy sê ondersteuning moet dus verder as die kosmandjie strek.
# Die ANC in Gauteng veroordeel gisteraand se moord op twee lede van die party se Jeugliga in Katlehong, Ekurhuleni. Hulle is doodgeskiet toe hulle ʼn partylid se gedenkdiens in die Mogobeng Primary School verlaat het. Vyf mense is gewond. Een verdagte het homself aan die polisie oorgegee. Die koördineerder van die ANC se provinsiale taakspan, Sochayile Khanyile, het mense gevra om die ondersoek toe te laat en nie ongetoetste inligting te deel nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Britse eerste minister, Andy Burnham, ontvang vandag die Oekraïnse president, Volodimir Zelensky, in Downingstraat 10. Die ontmoeting vind plaas teen die agtergrond van die Amerikaanse president, Donald Trump, se besluit om sanksies op Russiese diesel te verlig. Burnham sal waarskynlik tydens die besoek versnelde militêre steun aan Kiëf en verdere sanksies teen Moskou aankondig. Hy sal ook planne herbevestig vir die volledige inwerkingstelling van ‘n verbod op maritieme dienste vir Russiese uitvoere van vloeibare petroleumgas. Burnham sê Brittanje se steun aan Oekraïne is onwankelbaar.
# Sokker: Banyana Banyana is deur na die derde kwalifiserende ronde vir 2028 se Olimpiese Spele in Los Angeles danksy ‘n oortuigende gemiddelde oorwinning van 7-0 oor Madagaskar in Bloemfontein. Suid-Afrika het die tweede wedstryd 3-0 gewen danksy ‘n doel deur Gabriela Moodaly-Salgado en twee deur die plaasvervanger Ronnel Donnelly. 2022 se Afrika-kampioen speel vroeg volgende jaar in die derde ronde teen Angola. Banyana se afrigter, Desiree Ellis, is tevrede met die algehele vertoning:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 18-rand-44-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-495-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-149-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 108-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….