Nuus 07:00
BULLETIN 14 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IMF verwag Suid-Afrika se groeivooruitsigte sal bestendig bly
# MI5 waarsku oor kunsmatige intelligensie se bedreiging vir Brittanje se nasionale veiligheid
# En motorsport: Kagame verwerp die idee dat Formule 1 te groot is vir Rwanda
# Die Internasionale Monetêre Fonds sê Suid-Afrika se groeivooruitsig sal na verwagting op die kort termyn bestendig bly en op die medium termyn geleidelik verbeter. Dit sal ondersteun word deur versterkte beleidsraamwerke en voortgesette strukturele hervormings. Die IMF het sy ekonomiese groeivooruitsig vir die land tot een-persent verlaag teenoor die 1,1-persent wat in Julie voorspel is. Die regering hoop op drie-persent groei. Die IMF sê Suid-Afrika ly onder die uitwerking van die oorlog in die Midde-Ooste, en sy groeivooruitsig ná 2026 is redelik plat.
# Die ANC sê hy steun nie staatsbeheer oor kerke nie en glo godsdiens-instellings moet vry bly om hul eie sake binne die raamwerk van die Grondwet te bestuur. Die party het reageer op kommer wat uitgespreek is deur die South African Church Defenders, wat beplan om te betoog teen voorgestelde regulering van kerke deur die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe. Die ANC-woordvoerder Mahlengi Bhengu sê godsdiens-instellings moet mense se regte, waardigheid en welstand beskerm terwyl hulle hul onafhanklikheid behou:
# Die Arbeidshof het die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, verbied om die werwingsproses vir ‘n uitvoerende hoof vir die Nasionale Vaardigheidsfonds te hervat. Doktor Khathutshelo Sirovha is eenparig vir die pos aanbeveel. Die hof het bevind Manamela het hom die bevoegdhede van die direkteur-generaal toegeëien, maar het ook geen reg om die pos weer te adverteer nadat Sirovha as suksesvolle kandidaat aanbeveel is nie. Die tussentydse interdik bly van krag hangende die finale beslissing oor ‘n afsonderlike aansoek wat die wettigheid van die minister se opdrag betwis.
# Die DA in Gauteng sê die Emfuleni-munisipaliteit moet optree teen korrupsie en wanbestuur. Die party het gister ‘n protesoptog na die munisipaliteit gehou en ‘n memorandum oorhandig waarin daar aangedring word op aanspreeklikheid oor beweerde onreëlmatighede met die verkryging van munisipale voertuie, moontlike nepotisme by aanstellings en swak dienslewering. Kingsol Chabalala van die DA sê die munisipaliteit moet billike aanstellings verseker, gekwalifiseerde personeel aanstel en optree teen diegene wat vir korrupsie en wanbestuur verantwoordelik is. Chabalala het bygevoeg inwoners verdien beter dienste en ‘n plaaslike regering wat aanspreeklik gehou kan word.
# Brittanje se plaaslike veiligheidsdiens, MI5, sê bedreigings van buitelandse teenstanders het die afgelope dekade viervoudig toegeneem, hoofsaaklik uit Rusland, Iran en China. Die komplotte sluit in sabotasie, sluipmoordpogings, kuberaanvalle en brandstigting. Brittanje het die afgelope jaar meer as 50 individue gearresteer oor operasies waarby Iran betrek word. MI5 se hoof, Ken McCallum, waarsku kunsmatige intelligensie vererger bedreigings teen Brittanje se nasionale veiligheid aansienlik. Hy sê die grootste bedreiging is ekstremistiese groepe wat KI-tegnologie gebruik om nuwe en bestaande biologiese wapens in te span:
# Motorsport: Rwanda se president, Paul Kagame, verwerp die idee dat Formule Een “te groot” is vir ʼn klein landjie soos syne. Rwanda het ’n tienjaar-ooreenkoms onderteken om ’n F1 Grand Prix vroeg in die 2030’s aan te bied en dié sport vir die eerste keer sedert 1993 weer na Afrika te bring. Die wedren sal plaasvind sodra die nuwe baan in Bugesera, 40 kilometer suid van die hoofstad Kigali, voltooi is. Kagame sê geen geleentheid is te groot vir Rwanda nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 18-rand-45-sent teen die euro en 21-rand-84sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-235-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-154-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 109-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….