Nuus 17:00
BULLETIN 13 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Oud-amptenare van Binnelandse Sake aangekeer weens ‘n 100-duisend-rand paspoort-bedrogspul
# Sun International verskerp voorsorgmaatreëls teen minderjarige en probleemdobbelary
# En, motorsport: Rwanda gaan Afrika se Formule Een Grand Prix in die vroeë 2030’s aanbied
# Twee voormalige amptenare van Binnelandse Sake is aangekeer nadat hulle na bewering Suid-Afrikaanse paspoorte vir tot 100-duisend-rand elk aan buitelandse burgers verkoop het. Die arrestasies volg op ‘n gesamentlike ondersoek deur die Valke en die Teenkorrupsie-eenheid na ‘n sindikaat wat in 2022 ontbloot is. Die voormalige amptenare het na bewering misbruik gemaak van ‘n leemte in die stelsel en kon Suid-Afrikaanse burgers se identiteitsbesonderhede met foto’s van buitelandse burgers gebruik. Die departement se woordvoerder, Carli van Wyk, sê die saak is ‘n “kragtige voorbeeld” van waarom Binnelandse Sake aan ‘n uitgebreide digitale hervormingsprogram werk.
# Sun International het ‘n handves vir verantwoordelike dobbelary van stapel gestuur en bepleit strenger maatreëls om mense wat dobbel te beskerm. Die handves beperk dobbeladvertensies, bied hulpmiddels om mense te beskerm en maak van volgende jaar voorsiening vir die gebruik van kunsmatige intelligensie om mense te identifiseer wat dobbelprobleme kan ontwikkel. Ulrik Bengtsson van Sun International sê aanlyn dobbelrekeninge sal nie geaktiveer word vir mense wat verklaar hulle ontvang maatskaplike toelaes van SASSA of befondsing deur NSFAS nie:
# Die DA sê die Gautengse Departement van Onderwys het oor drie boekjare 96-miljoen-rand aan reis, akkommodasie en konferensiefasiliteite bestee terwyl skole finansiële onder druk verkeer. Die party sê bykans 48-miljoen-rand is aan konferensiefasiliteite bestee en 22-miljoen-rand aan vervoer. Michael Waters van die DA sê daar is teenstrydighede in die departement se antwoorde. Waters het ‘n volledige uiteensetting van die besteding geëis, insluitend hoe dit onderrig en leer bevoordeel:
En nuus uit die buiteland:
# Die owerhede het die sluiting van Riaad se King Khalid-internasionale lughawe tot Saterdag verleng. Lugrederye het vlugte gekanselleer na voortdurende aanvalle deur Jemen se Iran-gesinde Houthi-rebelle veroorsaak het dat die lugruim bo Saoedi-Arabië se hoofstad gesluit moes word. Die Saoedi-burgerlugvaartowerheid sê bedrywighede is opgeskort vir opruimingswerk en om veiligheid en operasionele gereedheid van die lughawe te verseker. Die lughawe is Saterdag gesluit toe daar ‘n aanval was waarin 13 mense dood en meer as 300 beseer is. Nog ‘n aanval Sondag het een lewe geëis en ten minste twaalf mense is beseer.
# Motorsport: Rwanda het Suid-Afrika geklop met die aankondiging van Formule Een dat dié land in die vroeë 2030’s die Grand Prix sal aanbied. Dit sal die eerste een in Afrika wees sedert die Suid-Afrikaanse wedren van 1993 op Kyalami in Johannesburg. F1 het aangekondig ‘n splinternuwe FIA-graad 1-renbaan sal in Bugesera, naby die nuwe internasionale lughawe, gebou word. Die baan, wat deur Tilke en WurzDesign ontwerp is, maak gebruik van Rwanda se heuwelagtige landskap en verwesenlik ‘n lang gekoesterde ambisie van die F1-leierskap en -renjaers om ‘n wêreldwye voetspoor op elke vasteland te vestig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 18-rand-48-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-224-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-178-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 107-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….