Nuus 15:00
BULLETIN 13 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê die terugtrekking van Madonsela se benoeming was irrasioneel
# Rugby: Giliomee kan Saterdag sy buiging vir die Bulle maak teen Stade Francais
# En die Jacob Zuma-stigting verwerp berigte dat hy uit hospitaal ontslaan is
# Die EFF het aan die Hooggeregshof in Kaapstad gesê die Parlement se Artikel 89-komitee het onregmatig opgetree toe hy Griffiths Madonsela se benoeming as hoofgetuienisleier vir die Phala Phala-ondersoek teruggetrek het. Die party se regsverteenwoordiger, Mfesane Ka-Siboto, voer aan die komitee was van die begin af bewus dat Madonsela met die ANC se studiegroep gewerk het. Hy meen president Cyril Ramaphosa se beswaar het die komitee se besluit beïnvloed:
# Suid-Afrikaners gaan die feestyd hoër reiskoste ondervind en Investec se hoofekonoom, Annabel Bishop, waarsku brandstofpryse sal tot volgende jaar hoog bly. Sy het aan CapeTalk gesê die petrolprys het vanjaar van 20- tot 30-rand per liter gestyg, terwyl diesel van 17-rand tot 31-rand geklim het en volgende maand tot 34-rand kan styg. Bishop sê hoër brandstofkoste plaas verbruikers en sake-ondernemings onder druk, bedreig toerisme en ekonomiese groei, en kan inflasie tot vyf-persent opjaag, met die moontlikheid van verdere rentekoersverhogings.
# Die Wes-Kaapse regering bied van vandag tot Donderdag gratis voertuigveiligheidstoetse vir leerdervervoer- en openbare vervoer-voertuie aan as deel van Beweeglikheidsmaand. Dit vind van agt-uur soggens tot drie-uur middae plaas by die Gene Louw-verkeerskollege en deelnemende toetssentrums. Hoofdirekteur Maxine Bezuidenhout sê gekwalifiseerde beamptes sal bande, remme, ligte en die onderstel nagaan en motoriste voorsien van ‘n gedrukte verslag oor enige gebreke. Sy sê gereelde onderhoud speel ‘n belangrike rol om leerders veilig te hou:
# Rugby: Die Bulle se jongste aanwins, die Junior Springbok-ster Luan Giliomee, sal na verwagting Saterdag sy buiging vir die span maak in die Kampioenebeker-openingswedstryd teen Stade Francais op Loftus. Die 20-jarige het verlede week na Pretoria verhuis nadat sy kontrak met die Haaie verstryk het. Die veelsydige agterspeler is as losskakel benoem vir die kompetisie, saam met die Springbokke Handré Pollard en Curwin Bosch, maar kan ook maklik in die plek van die veteraan-Bok Willie le Roux op heelagter speel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 18-rand-44-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-111-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-183-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-22-sent per vat.
# En ten slotte: Die Jacob Zuma-stigting het berigte ontken dat die oudpresident en leier van die MK-party uit die hospitaal ontslaan is. Die stigting sê Zuma is steeds in die Netcare St Anne’s-hospitaal in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, waar hy volgens sy party vir ‘n roetine-ondersoek opgeneem is. Die party sê hy is in ‘n goeie luim. President Cyril Ramaphosa het ook bevestig hy is ingelig oor Zuma se gesondheidstoestand. Die stigting se woordvoerder, Mzwanele Manyi, beskuldig die media dat hulle bespiegeling aanwakker en ongegronde gerugte versprei.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….