Nuus 12:00
BULLETIN 13 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie wil ‘n intelligensie-amptenaar se getuienis agter geslote deure laat plaasvind
# Minister Lamola sê die skuldlas belemmer Afrika se ontwikkelingsdoelwitte
# En die veteraanakteur Marius Weyers het ongeneeslike kanker
# Die Madlanga-kommissie se getuienisleiers het aansoek gedoen om die waarnemende koördineerder van die Intelligensie-koördineringskomitee, Ntandazo Sifolo, se getuienis agter geslote deure aan te hoor. Dit sal na verwagting fokus op intelligensiestrukture, georganiseerde misdaad-bedreigings en bewerings van infiltrasie van die strafregstelsel. Die getuienisleiers vra dat sy getuienis, opnames, getuienisverslae en ondersteunende dokumente vertroulik hanteer word. Sifolo sou vandag getuig het, maar sy verskyning is uitgestel tot ‘n onbepaalde datum. Enige mediagroep wat die aansoek wil teenstaan, moet dit teen Donderdag skriftelik indien.
# Die Motorbedryfpersoneelvereniging is gekant teen voorgestelde verhogings in voertuigregistrasie- en lisensiefooie in Gauteng. Die provinsie beplan om registrasiefooie tot 40-rand te verhoog en fooie vir die hernuwing van lisensieskyfies op te skuif tot 156-rand – die hoogste in die land vir voertuie onder drie-duisend-500-kilogram. Woordvoerder Phakamile Hlubi-Majola sê die verhogings kom op ‘n tydstip dat die petrolprys tot bo 30-rand per liter gestyg het, en verwerp planne vir ‘n nuwe Padongelukkefonds-heffing op lisensiehernuwings:
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê die toenemende skuldlas op Afrika belemmer sy ontwikkelingsdoelwitte. Hy het tydens die Afrika- en Europa-dialoog in Pretoria gesê 25 Afrikalande het die afgelope paar jaar meer bestee aan skuld-delging as aan gesondheid en onderwys. Lamola sê lande in die Globale Suide moet tot ses-persentasiepunte meer betaal om geld te leen as lande buite Afrika:
# Tennis: Alexander Zverev van Duitsland sal die eerste keer in sy loopbaan die jaar as die wêreld se voorste speler afsluit. Die 29-jarige het die posisie beklink toe die Spanjaard Carlos Alcaraz gister onverwags uitgeskakel is in die Sjanghaise Meesterstoernooi in China. Zverev het vanjaar sy eerste twee Grand Slam-titels opgeraap in die Franse Ope en die Amerikaanse Ope. Hy neem die nommer een-posisie oor by die Italianer Jannik Sinner, wat die res van die seisoen gaan misloop weens ‘n kniebesering.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-40-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-843-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-191-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-44-sent per vat.
# En ten slotte: Die bekende Suid-Afrikaanse akteur, die 81-jarige Marius Weyers, het ongeneeslike kanker. Weyers het aan Netwerk24 gesê hy vrede gemaak met sy toestand. Hy is onlangs in die hospitaal opgeneem en is tans in ‘n rehabilitasiesentrum. Weyers sal na verwagting terugkeer na sy huis in Rooi-Els waar hy sonder verdere mediese ingryping versorg sal word. Hy het tydens sy loopbaan van meer as vyf dekades in sowat 200 teater-, rolprent- en televisieproduksies verskyn. Weyers se vrou, Evette, ʼn gerespekteerde beeldhouer, is in 2023 dood nadat sy aan Alzheimer-siekte gely het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….