Nuus 07:00
BULLETIN 13 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkminister van Justisie pleit vir billiker toegang tot howe en regsdienste
# ‘n Israelse tiener is in ‘n ontploffing dood
# En krieket: Renshaw plaas Australië op die drumpel van oorwinning in die eerste toets
# Die adjunkminister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Andries Nel, sê die geografie van die apartheidsera mag nie langer verhoed dat mense toegang tot geregtigheid verkry nie. Hy het tydens die agtste Sosiale Geregtigheid-beraad aan die Universiteit Stellenbosch gesê die regering moet howe en regsdienste, insluitend ondersteuning met onderhoud, beskerming teen gesinsgeweld en regshulp, meer toeganklik vir gemeenskappe maak. Hy het bygevoeg Suid-Afrika moet voortgaan om ongelykheid aan te spreek en waardigheid, gelykheid en vryheid vir almal te verseker:
# Die DA sê die Padongelukkefonds moet hervorm word voor daar van motoriste verwag kan word om meer te betaal. Die party sê die fonds het Nasionale Tesourie versoek om die brandstofheffing met 75-sent-per-liter tot drie-rand te verhoog, terwyl duisende geldige eise steeds onbetaald is. Chris Hunsinger van die DA sê die fonds het 12,8-miljoen-rand aan regskoste vir sewe dissiplinêre verhore bestee, met byna 30-miljoen-rand aan salarisse vir minstens 16 geskorste senior bestuurders:
# Business Leadership South Africa het ‘n beroep op die regering gedoen om duidelike spertye te bepaal vir privaat belegging in die elektrisiteitsnetwerk. In haar weeklikse nuusbrief het die uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, gesê planne om maatskappye te nooi om vir nuwe transmissieprojekte te tender is tot die tweede kwartaal van volgende jaar uitgestel. Mavuso waarsku vertragings kan die uitbreiding van die netwerk raak en toegang tot elektrisiteit beperk. Sy het aangedring die regering moet die proses bespoedig om Eskom se transmissieafdeling te skei en ’n duidelike tydraamwerk vir die aanvang van bouwerk verskaf.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik verwelkom die afdanking van die uitvoerende hoof van die Onderwys- en Opleidingsowerheid vir die Versekeringsektor, Gugu Mkhize. Die organisasie se regstappe teen Mkhize se heraanstelling sal egter voortduur. Stefanie Fick van OUTA voer aan die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, se besluit verlede jaar om Mkhize vir nog vyf jaar aan te stel, moet hersien word. Fick sê verdere ondersoeke is nodig om te verseker openbare fondse word behoorlik bestuur, en wangedrag moet aangespreek word:
# ‘n Veertienjarige seun is dood en 24 mense beseer in ʼn ontploffing tydens ʼn skooluitstappie in die noorde van Israel naby die Libanese grens. Israel se weermag sê die ontploffing is waarskynlik veroorsaak deur ʼn trosbom van Hisbolla wat nie afgegaan het nie. Die polisie vermoed een van die leerders het die toestel opgetel voordat dit ontplof het. Twee seuns is ernstig beseer. Owerhede ondersoek die voorval en soek in die omgewing nog ammunisie wat nie afgegaan het nie. Polisie gaan ook veiligheidsregulasies na vir skooluitstappies in die omgewing.
# Krieket: Matt Renshaw het met kolf en bal geskitter en Australië staan ʼn goeie kans om Suid-Afrika te klop in die eerste toets op Kingsmead in Durban. Renshaw het in Australië se tweede beurt 82 lopies behaal en die Proteas se teiken op 421 gestel. Hy het sy eerste toetspaaltjie platgetrek en Suid-Afrika se kaptein, Temba Bavuma, uitgeboul. Suid-Afrika sluit die vierde dag af op 102 vir vier, en met ses paaltjies staande kort hulle 319 om te wen. Australië het ses paaltjies nodig om voor te loop in die reeks van drie toetse.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 18-rand-47-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-214-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-157-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 107-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….