Nuus 06:00
BULLETIN 13 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering moedig gesinne aan om matriekkandidate te ondersteun
# Thuli Madonsela vra vir etiese leierskap om munisipaliteite te red
# En Gwede Mantashe stap uit die COSATU-kongres
# Die regering doen ‘n beroep op ouers en voogde om matriekleerders te ondersteun wanneer hulle vandag met hul eindeksamen begin. ‘n Rekordgetal van 962-duisend-832 kandidate het vir die 2026 Nasionale Senior Sertifikaateksamen geregistreer. Die adjunk-regeringswoordvoerder, William Baloyi, het ouers aangemoedig om ‘n rustige omgewing vir studie te skep en leerders nie onder druk te plaas nie. Baloyi het ook kandidate wat oorweldig voel, aangemoedig om ondersteuning te soek by onderwysers, familielede of persone wat hulle vertrou:
# Die direkteur van die Sentrum vir Maatskaplike Geregtigheid, Thuli Madonsela, doen ‘n beroep op munisipaliteite om grondwetlike regte in werklikheid te omskep deur dienslewering te verbeter en ongelykheid aan te spreek. In ‘n toespraak by die agtste Beraad oor Maatskaplike Geregtigheid aan die Universiteit Stellenbosch wat vandag ten einde loop, het Madonsela gesê munisipaliteite het leiers met integriteit nodig wat basiese dienste soos water, elektrisiteit, behuising en vullisverwydering kan lewer. Madonsela sê Suid-Afrika kan nie vorder sonder om munisipaliteite reg te ruk en die beloftes van die Grondwet na te kom nie:
# Die ANC se nasionale voorsitter, Gwede Mantashe, het uit die COSATU-kongres gestap nadat hy beswaar gemaak het teen die volgorde van sprekers. Mantashe, wat die ANC-afvaardiging gelei het, het daarop aangedring om laaste te praat en gesê dit is die gevestigde tradisie. Die program het die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party voor die ANC geplaas, gevolg deur die burgerlike organisasie, SANCO. Pogings om Mantashe te oorreed om te bly, was onsuksesvol. Dit dra by tot spanning binne die alliansie, met die SAKP wat voorberei om onafhanklik aan die plaaslikeregeringsverkiesing in November deel te neem.
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê gereelde instandhouding van die spoornetwerk is noodsaaklik om vragvervoer teen 2029 tot 250-miljoen ton per jaar te verhoog. Sy het die opmerkings gister gemaak tydens ’n oorsigbesoek aan die instandhoudingsluiting aan die ysterertsspoorlyn in die Noord-Kaap. Die sluiting duur tot 16 Oktober, met herstelwerk wat daarop gemik is om spoorveiligheid en -betroubaarheid te verbeter. Creecy sê betroubare infrastruktuur is noodsaaklik om vertroue in vragspoorvervoer te herstel en ekonomiese groei te ondersteun:
# President Donald Trump verdedig ‘n ooreenkoms wat toelaat dat Russiese diesel in die wêreldmark verhandel word, en sê dit kan help om brandstofpryse te verlaag. Sy regering het sanksies tydelik verslap om die voorrade toe te laat, wat kritiek van Republikeinse en Demokratiese wetgewers uitgelok het. Sewe senatore het by Trump aangedring om die besluit terug te trek. Hulle waarsku dit kan Amerikaanse wetgewing oortree en help om Rusland se oorlog teen Oekraïne te befonds. Trump skryf die stygende brandstofpryse toe aan Oekraïense aanvalle op Russiese olieraffinaderye, terwyl president Volodymyr Zelensky sê dis die ontwrigtings in die Straat van Hormoes.
# Rugby: Veertien Springbokke kan die Bulle in die komende naweek se openingswedstryd van die Kampioenebeker teen die Franse span Stade Français op Loftus verteenwoordig. Die Pretoria-span het in die vorige vier seisoene nie beïndruk nie en het nie eens die uitspeelwedstryde in die 2024/25-seisoen gehaal nie. Die Bulle is egter vol vertroue ná Saterdag se oortuigende oorwinning van 57-15 oor die Leeus in ‘n tuiswedstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap. Handré Pollard, Curwin Bosch en die nuweling in die groep, Luan Giliomee hoop almal op die nommer 10-trui.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 18-rand-45-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-407-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-171-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 108-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….