Nuus 18:00
BULLETIN 12 Oktober 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie sê die ANC het nie die sperdatum vir kandidatelyste gehaal nie
# Die ANC-Jeugliga veroordeel aanvalle op swart ekonomiese bemagtiging
# En, die nuwe Tom Cruise rolprent verloor dalk 4-miljard-rand
# Die Verkiesingskommissie sê die ANC het moontlik die sperdatum vir die indiening van kandidate misgeloop deur nie die finale stap op sy aanlynstelsel te voltooi nie. Die ANC betwis die diskwalifisering van 181 kandidate in ses munisipaliteite. Advokaat Terry Motau van die OVK het aan die Konstitusionele Hof gesê alle partye moet dieselfde reëls volg om regverdigheid en sekerheid te verseker. Hy sê deur uitsonderings toe te laat kan die kommissie gedwing word om individuele besluite oor partye te neem:
# COSATU se parlementêre koördineerder, Matthew Parks, is vol vertroue die federasie se 15de nasionale kongres sal suksesvol by Emperors Palace in Kempton Park, Gauteng, verloop. COSATU het in September verdaag ná meningsverskille oor ‘n leierskapsverandering. Tydens die driedaagse kongres sal daar ook besin word oor komende veldtogte en die versterking van die leierskap. Hy sê die federasie is vol vertroue die byeenkoms sal sy verbintenis tot werkers en werkersklasgemeenskappe versterk:
# Die ANC-Jeugliga veroordeel vermeende toenemende pogings om swart mense se ekonomiese vooruitgang te stuit. Hy sê onlangse hofuitsprake en pogings om swart ekonomiese bemagtiging in staatskontrakte af te skaal, bemoeilik pogings om die ekonomiese ongelykhede van die verlede reg te stel. Die liga verwys na die tersydestelling van die Regsdienskode deur die Hooggeregshof in Pretoria en die Konstitusionele Hof se beslissing oor die Wet op Openbare Verkryging. Hy sê dié verwikkelings bevoordeel steeds ‘n ekonomiese stelsel wat die swart meerderheid benadeel en welvaart word steeds deur wit mense beheer.
Tom Cruise se jongste rolprent, Digger, kan dalk nagenoeg vier-miljard-rand by die loket verloor, ná teleurstellende kaartjieverkope. Die rolprent het wêreldwyd slegs 35-miljoen-dollar in sy eerste twee naweke verdien, terwyl kaartjieverkope in Noord-Amerika die tweede naweek met 60-persent teruggesak het. Dit het na raming 4,6-miljard-rand gekos om te vervaardig en te bemark. Ontleders meen dit sal sowat 825-miljoen-rand in teaters verdien, heelwat minder as wat nodig is om gelyk te breek. Cruise speel die rol van ‘n welgestelde oliemagnaat met planne wat rampspoedig kan wees.
# Gholf: Die DP World-toer het bevestig enige speler wat vir die volgende seisoen by LIV Golf aansluit, sal nie as lid van sy toer toegelaat word nie. Die uitvoerende hoof, Guy Kinnings, sê spelers sal ‘n keuse moet maak wat ‘n aansienlik strenger standpunt as in onlangse seisoene aandui. BBC Sport berig die sperdatums vir albei kompetisies is volgende maand, terwyl daar steeds onsekerheid oor LIV se toekoms bestaan weens finansiële knelpunte. Kinnings sê spelers sal moet bekend maak aan watter toere hulle van plan is om deel te neem, wat sal bepaal of lidmaatskap toegestaan word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 18-rand-49-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-851-dollar. Die prys van goud is vier -duisend-164-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 109-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….