Nuus 15:00
BULLETIN 12 Oktober 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC vra geen spesiale behandeling oor afgekeurde kandidate nie
# Deloitte word betrek by ‘n BBC-ondersoek na Roman Abramovich se belastingontduiking
# En twee Amerikaanse ekonome word bekroon met die Nobelprys vir Ekonomiese Wetenskappe
# Die ANC se regsverteenwoordiger, Daniel Berger, het in die Konstitusionele Hof aangevoer die party het voldoen aan al die wettige en regulatoriese vereistes vir kandidaatbenoemings voor die Verkiesingskommissie se sperdatum. Die ANC vra die hof om 181 afgekeurde kandidate toe te laat om in ses munisipaliteite mee te ding tydens die plaaslike verkiesing. Berger sê die ANC vra bloot dat die hof die saak ingevolge die wet beoordeel:
Die DA loop intussen net-net voor teen die ANC in sekere metro’s voor die erkiesing. ‘n Nuwe peiling deur eNCA en MarkData toon die twee is feitlik gelykop in Nelson Mandelabaai, met die DA op 37,7-persent en die ANC op 37,4-persent. Die DA het in Ekurhuleni ‘n voorsprong van 31,2-persent teenoor die ANC se 29,4-persent. Die DA-leier, Geordin Hill-Lewis, sê dit stem grootliks ooreen met die party se eie peilings:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n BBC-ondersoek toon die rekenmeesters Deloitte het gehelp om dokumente te vervals om die Russiese miljardêr Roman Abramovich se rykdom te verberg en belasting te ontduik in Brittanje. Luukse seiljagte, herehuise en privaat vliegtuie van 11,1-miljard-rand het verdwyn uit die onderneming se rekords nadat finansiële dokumente terugdateer is. BBC Panorama en die Buro vir Ondersoekende Joernalistiek het saam ondersoek gedoen na buitelandse ondernemings wat in Ciprus bestuur word. Abramovich ontken belasting-ontduiking of dat hy geweet het van die vervalsings. Deloitte Ciprus sê hy voldoen aan die wet.
# Tennis: Zheng Qinwen het weens uitputting en ‘n skouerbesering onttrek aan die Wumhan-ope na haar geskiedkundige Chinese Ope-titeloorwinning. Sy het die Rus Mirra Andreeva in die eindstryd geklop en sodoende die eerste Chinese speler geword wat die titel in Beijing verower. Die voormalige wêreld-nommer-vier het verlede jaar ‘n elmboog-operasie ondergaan wat haar byna agt maande op die kantlyn gehou het. Zheng sê sy het sedert haar terugkeer ‘n veeleisende reeks wedstryde gespeel wat haar heeltemal uitgeput het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-53-sent teen die dollar, 18-rand-48-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-307-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-171-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 108-dollar-61-sent per vat.
# En ten slotte: Die Amerikaanse ekonome Robert Hall en Michael Woodford is bekroon met 2026 se Nobelprys vir Ekonomiese Wetenskappe vir hul werk oor ekonomiese bestendiging. Hul navorsing het gelei tot die ontwikkeling van raamwerke wat regerings en sentrale banke help om ekonomiese hoogte- en laagtepunte te bestuur deur rentekoerse, staatsbesteding en ander beleidsmaatreëls. John Hassler van die Nobelkomitee sê dit help beleidmakers om te reageer op ekonomiese terugslae, inflasie en skielike ekonomiese skokke soos energiekrisisse:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….