Nuus 13:00
BULLETIN 12 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die dollar nader ‘n 18-maande-hoogtepunt
# Ramaphosa sê die hervorming van die landbousektor is noodsaaklik vir die ekonomie en voedselsekerheid
# En rugby: Die Bulle en die Stormers verbeter hul posisies op die Verenigde Rugbykampioenskaps-punteleer ná hul oorwinnings
# Die Amerikaanse dollar verhandel steeds na aan sy hoogste vlak in 18-maande terwyl die oorlog in die Midde-Ooste beleggers versigtig hou. Reuters berig markte hou ook Amerikaanse inflasiesyfers dop wat Woensdag bekend gemaak word en die Amerikaanse Federale Reserwe se volgende rentekoersbesluit kan beïnvloed. Aanvalle op energie-aanlegte in Saoedi-Arabië en twee olietenkwaens vererger mark-onsekerheid. Oliepryse het gewissel in vroeë handel in Asië. Die sterker dollar kan ontluikende markte se geldeenhede verder onder druk plaas, insluitend die rand.
# President Cyril Ramaphosa sê die hervorming van Suid-Afrika se landbousektor is noodsaaklik vir ekonomiese hervorming en voedselsekerheid. Hy sê in sy weeklikse nuusbrief die regering sal deur sy Proaktiewe Grondverkrygingstrategie ongeveer 2,5-miljoen hektaar staatsgrond aan swart boere beskikbaar stel en van titelaktes voorsien. Hy sê bekostigbare befondsing is noodsaaklik vir opkomende handelsboere om suksesvolle ondernemings op te bou. Ramaphosa voeg by die landbousektor hou groot moontlikhede in vir groei en werkskepping.
# Die Motorbedryf-personeelvereniging wens 2026 se matrieks sterkte en voorspoed toe met die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen wat môre begin. ‘n Rekordgetal van 962-duisend-832 kandidate het geregistreer. MISA se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê die vereniging help sy lede se kinders deur finansiële ondersteuning, insluitend ‘n beurs van 12-duisend-500-rand en ‘n skoolondersteuningsprogram, om leerders te help om hul skoolloopbaan te voltooi en verder te studeer:
Die United Progressive People Alliance ook 2026 se matrieks sterkte toegewens met hul eindeksamen. Umalusi het bevestig sowat 1,08-miljoen kandidate is geregistreer om die eksamen af te lê in nege-duisend-183 sentrums. Woordvoerder Abel Tau het erkenning gegee aan die harde werk, opofferings en deursettingsvermoë wat matrieks getoon het om hierdie belangrike mylpaal in hul skoolloopbaan te bereik:
# Rugby: Die Bulle en die Stormers het opgeskuif op die Verenigde Rugbykampioenskaps-punteleer ná die naweek se oorwinnings. Die Bulle het van sewende na derde verbeter nadat hulle die Leeus 57-15 verneder het in die Jukskei-derby op Loftus. Die Stormers het van agtste na vierde verbeter ná hul oorwinning van 39-22 oor die Haaie in Kaapstad. Die Haaie is nou vyfde en die Leeus sewende. Al vier Suid-Afrikaanse spanne het twee van hul eerste drie wedstryde gewen. Die Skotse span Edinburgh is eerste en Glasgow Warriors van Wallis tweede.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 18-rand-52-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-422-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-177-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….