Nuus 12:00
BULLETIN 12 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Wes-Kaapse polisie verwelkom die inhegtenisneming van ‘n verdagte ná die massa-skietery in Lwandle
# ‘n Verdagte is in Gauteng aangekeer nadat ‘n vermoorde drawwer se besittings by hom gevind is
# En Eskom se energie-beskikbaarheidsfaktor bereik ‘n ses-jaar-hoogtepunt
# Die bestuur van die Wes-Kaapse polisie verwelkom die inhegtenisneming van ‘n man in verband met ‘n massa-skietery in Lwandle in die Strand op 27 September. Elf mense is dood en tien beseer. Die 32-jarige verdagte is Vrydag in Lwandle aangekeer. Polisiewoordvoerder André Traut sê die man verskyn vandag in die Landdroshof in die Strand op elf aanklagte van moord en tien van poging tot moord:
# Die Gautengse polisie het bevestig ‘n verdagte is aangekeer in verband met die moord op die 38-jarige drawwer, Elizabeth “Tsontso” Moselakgomo. Sy het op 12 September verdwyn nadat sy haar huis in Rhodesfield, Kemptonpark, verlaat het. Haar dood het landwye kommer veroorsaak en opnuut die kollig op vroue se veiligheid geplaas. Nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê beamptes het die verdagte aangetref met ‘n persoonlike besitting wat na bewering aan Moselakgomo behoort het. Sy sê ‘n aanklag van moord is nog nie teen die verdagte aanhangig gemaak nie.
# Eskom toon steeds bedryfsverbeterings in sy kragopwekkingsvloot, met sy energie-beskikbaarheidsfaktor op 68,2-persent tot dusver hierdie boekjaar, die hoogste vlak in ses jaar. Woordvoerder Daphne Mokwena sê die prestasie weerspieël volgehoue bedryfsverbeterings en strukturele ingrypings wat op Eskom se kragopwekkingsvloot toegepas is. Sy sê Eskom se voortgesette fokus op bedryfsverbeterings sal ‘n kernrol speel in pogings om betroubare elektrisiteits-voorsiening te verseker en beleggings en ekonomiese ontwikkeling bevorder:
# Krieket: Suid-Afrika se voormalige hoofafrigter, Eric Simons, gaan volgens berigte aangestel word as boulafrigter in die Engelse toetsafrigter, Stephen Fleming, se ondersteuningspan. Fleming is besig om sy span bymekaar te kry vir die reeks teen die Proteas in Desember. Simons was tussen 2002 en 2004 in beheer van Suid-Afrika en was ook ‘n ruk lank Indië se boulafrigter. Hy het ook saam met Fleming by die Joburg Super Kings in die SA20 gewerk. Simons was ‘n raadgewer vir die Proteas se witbalspanne toe Rob Walter in beheer was.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 18-rand-51-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-471-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-176-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-85-sent per vat.
# En ten slotte: Lamb Champs het ’n nuwe span van tien skaapboere, bekend as die “Baa-Barians“, aangekondig wat op 31 Oktober tydens die eerste Lamb Champs-uitnodigingstoernooi in Pretoria met Span Suid-Afrika sal meeding. Die verandering volg op Namibië se onttrekking aan die kompetisie weens bek-en-klouseer. Die stigter van die kompetisie en uitvoerende hoof van die landbou-organisasie Saai, Francois Rossouw, hoop dit sal volgende jaar internasionaal uitgebrei word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….