Nuus 13:00
BULLETIN 11 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Jacob Zuma-stigting kritiseer die beriggewing oor sy gesondheid
# Die polisie waarsku teen geweld aangevuur deur vyandigheid teenoor buitelanders
# En: ‘n Nuwe nasionale park in die Oos-Kaap gaan biodiversiteit en watersekerheid beskerm
# Die Jacob Zuma-stigting se woordvoerder, Mzwanele Manyi, het skerp kritiek uitgespreek teen wat hy noem, die oormatige mediabelangstelling in oudpresident Jacob Zuma se behandeling in die hospitaal. Manyi het in ‘n plasing op X gevra waarom Zuma se gesondheid soveel meer aandag geniet as die van adjunkpresident Paul Mashatile. Hy sê die media wakker bespiegeling en openbare kommer aan. Manyi vra dat Zuma se privaatheid en waardigheid gerespekteer word terwyl hy herstel. President Cyril Ramaphosa het bevestig Zuma ontvang mediese behandeling, maar het geen besonderhede oor sy toestand verskaf nie.
# Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, sê vyandigheid teenoor buitelanders kan nooit as ‘n verskoning dien vir geweld, plundering, brandstigting of intimidasie nie. Sy sê mense het die reg om vreedsaam te betoog en hul stem te laat hoor, maar niemand het die reg om die wet in eie hande te neem of wettige bedrywighede te ontwrig nie. Dimpane sê die polisie sal voortgaan om die reg op vreedsame betogings te beskerm, maar streng en onpartydig optree teen misdadigheid:
Die Parlement se portefeuljekomitee oor Binnelandse Sake verwelkom intussen die besluit om die riglyne oor asielsoekers terug te trek ná ‘n uitspraak van die Konstitusionele Hof. Die komitee wil nou dringend duidelikheid kry oor hoe die uitspraak in praktyk toegepas gaan word en gaan ‘n spesiale vergadering belê. Die departement se direkteur-generaal moet die situasie ontleed en ‘n volledige plan oor die hantering van asielaansoeke ná die uitspraak voorlê. Die ministers van Binnelandse Sake en Indiensneming en Arbeid, asook die Grensbestuursowerheid en die Suid-Afrikaanse Appèlowerheid vir Vlugtelinge, sal na verwagting die vergadering bywoon.
# Minstens vier mense is dood nadat orkaan Isaias die Golfkus van Florida getref het. Reuters berig sowat 670-duisend verbruikers in vier deelstate was sonder elektrisiteit nadat die storm die kus bereik het. Isaias het intussen verswak, maar gevaarlike toestande heers steeds in die gebied. Weervoorspellers waarsku teen kitsvloede, skadelike wind en moontlike tornado’s in dele van die suidooste van Amerika. Noodspanne bepaal tans die skade en herstel die elektrisiteitsvoorsiening, met die paaie, brûe en lughawens wat plek-plek geleidelik heropen.
# Tennis: Die Spanjaard Carlos Alcaraz het die derde ronde van die Sjanghai Meesterstoernooi gehaal nadat hy gister vir Juan Manuel Cerundolo van Argentinië met 6-3 en 6-3 geklop het. Die tweede gekeurde speler het slegs 66 minute nodig gehad om sy eerste wedstryd te wen nadat hy in die eerste ronde ‘n loslootjie ontvang het. Alcaraz, wat vroeër hierdie week sy titel suksesvol verdedig het op die Japanse Ope in Tokio, sê hy is tevrede met sy vertoning al het hy net twee dae gehad om by die toestande in Sjanghai aan te pas. Hy kom in die derde ronde teen Zizou Bergs van België te staan.
# En ten skotte: Die Minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, David Maynier, het ‘n nuwe nasionale park in die Oos-Kaap geproklameer om grasvelde, biodiversiteit en belangrike waterbronne te beskerm. Die Grasslands-nasionale park beslaan meer as tienduisend hektaar tussen Nqanqarhu en Rhodes. Sanparke sal die park bestuur, waar grondeienaars kan voortgaan met bewaringsvriendelike boerdery-aktiwiteite. Maynier sê dit is die eerste nasionale park wat hoofsaaklik deur vennootskappe met grondeienaars tot stand gebring is:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….