Nuus 09:00
BULLETIN 11 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie verskerp ontplooiings ná die onrus in die land
# Donald Trump vra dat Zelensky vervang moet word
# En rugby: Derby-oorwinnings vir die Stormers en die Bulle
# Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, sê die polisie het ontplooiings in die land verskerp ná onrus rondom ‘n uitspraak in die Konstitusionele Hof oor asielaansoeke. Vier-en-twintig voertuie en eiendomme is sedert Donderdag beskadig. Dimpane sê bykomende hulpbronne is in Gauteng en KwaZulu-Natal ontplooi en alle beskikbare operasionele hulpbronne word landwyd ingespan. Sy sê intelligensiedienste hou die situasie dop, bevestig inligting en identifiseer moontlike bedreigings ten einde vinnig te kan reageer:
Intussen verwelkom die Forum for South Africa die Departement van Binnelandse Sake se besluit om die asielriglyn terug te trek, maar vra ‘n nasionale referendum oor immigrasie- en asielbeleid. Die leier, Tebogo Mashilompane, sê Suid-Afrikaners moet seggenskap hê oor die toekoms van die land se immigrasiestelsel en grensbestuur. Hy versoek die regering om grensbeheer te verskerp, misbruik van die asielstelsel hok te slaan, immigrasiewette toe te pas en te verseker vlugtelingontvangskantore beskik oor voldoende personeel om doeltreffend te werk:
# Die Departement van Vervoer gaan padverkeersregulasies wysig om te verhoed dat verkeersregistersertifikate, leerling-rybewyse en rybewyse gebruik word as algemene identiteitsdokumente. Dit volg nadat ‘n ondersoek in 2023 die omvangryke misbruik van verkeersregistersertifikate en ander padverkeersdokumente aan die lig gebring het. Woordvoerder, Collen Msibi, sê die wysigings het ten doel om wettige skuiwergate toe te maak en te verseker padverkeerswetgewing stem ooreen met die Wet op Identifikasie:
# Die Amerikaanse president Donald Trump vra dat Oekraïne se president Volodymyr Zelensky vervang moet word te midde van ‘n geskil oor Russiese dieseluitvoere. Trump en die Russiese president, Vladimir Putin, het glo ooreengekom om sanksies op Russiese diesel te verlig in ‘n poging om die stygende brandstofpryse te bestry. Zelensky veroordeel die stap en waarsku indien druk op Moskou verlig word, kan verdere aanvalle op Oekraïne volg. Sy kritiek volg ná ‘n Russiese aanval op Zaporizhzhia Saterdag waarin 20 mense, insluitend drie kinders, volgens berigte dood is. Trump vra ook dat Oekraïne aanvalle op Russiese olieraffinaderye staak.
# Rugby: Die Stormers het die Haaie met 38-15 geklop in hul Verenigde Rugbykampionskapsontmoeting in die Kaapstad-stadion. Die tuisspan het ses drieë gedruk, en hul uitstekende skrumwerk het die grondslag gelê vir die oorwinning. Die Haaie het nooit werklik vastrapplek gekry nie en die Stormers het hul geleenthede goed benut om die oorwinning te beklink. Die sege gee die Kaapse span spogregte in die kusderby en versterk hul vroeë aanslag in die kompetisie.
En in nog Verenigde Rugbykampioenskap-nuus het die Bulle het die Leeus met 57-15 oorrompel in hul derby op Loftus Versfeld in Pretoria. Die tuisspan het nege drieë teenoor die Leeus se twee gedruk, met die Springbok-agtsteman Cameron Hanekom wat twee keer in die eerste helfte oorgeduik het. Die Leeus was vir ‘n rukkie met 7-5 voor, maar die Bulle het gou weer beheer geneem en teen rustyd met 31-10 voorgeloop. Die patroon het ná rustyd voortgeduur en die telling verder vergroot danksy kliniese afronding en sterk aanvallende spel. Die Bulle is nou tweede op die VRK-punteleer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….