Nuus 08:00
BULLETIN 11 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Dertig verdagtes is aangekeer weens die onrus in Gauteng en KwaZulu-Natal
# Sokker: Sundowns onttroon Pirates as die MTN8-kampioene
# En: Agt Kaapse strande behou hul Blouvlag-status
# Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, sê 30 verdagtes is sedert Donderdag in Gauteng en KwaZulu-Natal in hegtenis geneem weens openbare geweld en onwettige betogings. Dimpane het tydens ‘n NATJOINTS-inligtingsessie gesê 25 verdagtes is in KwaZulu-Natal aangekeer en vyf in Gauteng. Aanklagte sluit in, openbare geweld, opsetlike saakbeskadiging, onwettige byeenkomste, dwarsboming van die gereg en verset teen inhegtenisneming. Sy sê van die verdagtes is na bewering sleutelfigure in die betogings wat gedreig het om beplande sportbyeenkomste in Durban te ontwrig:
COSATU verwelkom intussen die Departement van Binnelandse Sake se besluit om die verwerking van asielaansoeke by sy kantore tydelik op te skort. COSATU se woordvoerder, Matthew Parks, sê die stap is nodig om personeel, aansoekers en die publiek te beskerm. Hy veroordeel oortredings van immigrasiewette en xenofobiese geweld en beklemtoon wetstoepassing is die staat se verantwoordelikheid en nie die van vigilante-groepe nie:
# Die Standard Bank-groep het ‘n ooreenkoms onderteken om te belê in OPay, ‘n platform vir digitale finansiële dienste, hoofsaaklik in Nigerië en ander markte. OPay het ‘n registrasieverklaring ingedien aan die Amerikaanse Kommissie vir Sekuriteite en Beurse om aansoek te doen om sy Amerikaanse depositobewyse op die New Yorkse Aandelebeurs te noteer. Die uitvoerende hoof van die groep sê Afrika se ekonomiese groei word toenemend aangedryf deur digitale aanvaarding, verbinding en nuwe vorms van ekonomiese deelname. Hy sê die voorgestelde belegging is ‘n stap om digitale finansiële insluiting te versterk en finansiële dienste in Afrika uit te brei.
# Sokker: Mamelodi Sundowns het die verdedigende kampioene Orlando Pirates gisteraand in die MTN8-eindstryd op die Moses Mabhida-stadion in Durban met 2-0 geklop en daarmee Pirates se heerskappy van vier jaar tot ‘n einde gebring. Teboho Mokoena het die telling in die 11de minuut geopen, met doelwagter Ronwen Williams wat ‘n strafskop deur Gamphani Lungu van Pirates in die tweede helfte gekeer het. Iqraam Rayners se strafskop in beseringstyd het die trofee se nuwe tuiste bevestig. Dit is Sundowns se eerste MTN8-titel sedert 2021 en Miguel Cardoso sy eerste plaaslike beker met die klub.
# Krieket: Australië is in beheer van die eerste toets teen Suid-Afrika op Kingsmead in Durban, nadat Matt Renshaw ‘n loopbaan-beste van 190 lopies aangeteken het. Die hotklou-kolwer het die besoekers gered met die telling op 124 vir ses, en hulle gehelp tot ‘n totaal van 390, almal uit. Hy en Nathan Lyon het ‘n rekord-vennootskap van 134 lopies om die negende paaltjie gedeel. Die Proteas hervat vanoggend spel op 27 vir een, met ‘n agterstand van 363 lopies, nadat Ryan Rickelton vir ‘n nulletjie uitgehaal is. Spel op die tweede dag is vroeër weens swak lig gestaak.
# En ten slotte: Agt strande in Kaapstad het hul volle Blouvlag-status vir die 2026/27-seisoen behou, terwyl nog vier as proefstrande aangewys is. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, sê dit is die vyfde agtereenvolgende seisoen waarin agt strande die volle Blouvlag-status behaal, wat Kaapstad se 25-jarige deelname aan die internasionale Blouvlag-program voortsit:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….