Nuus 08:00
BULLETIN 10 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Drie Gupta-verwante maatskappye is skuldig bevind aan bedrog
# Donald Trump is briesend nadat hy weer vir die Nobel-vredesprys oor die hoof gesien is
# En krieket: Spel op Kingsmead hervat vanoggend met Australië op 187 vir ses
# Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings, Andy Mothibi, en die waarnemende hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Ntuthuzelo Vanara, verwelkom twee maatskappydirekteure en drie Gupta-verwante mynmaatskappye se skuldigbevinding aan bedrog en geldwassery van 107,5-miljoen-rand. Die Hooggeregshof in Johannesburg het Ronica Ragavan, Pushpaveni Govender, Optimum Coal Mine, Koornfontein Mines en Tegeta Exploration and Resources skuldig bevind aan die misbruik van fondse wat geoormerk was vir twee steenkoolmyne in Mpumalanga. Die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie se woordvoerder, Henry Mamothame, sê die geld is onregmatig aangewend om myndiensverskaffers en derde partye te betaal:
# President Cyril Ramaphosa sê ‘n Chinese motorvervaardiger wat beplan om in die Vrystaat te belê, moet uiteindelik voertuie en onderdele plaaslik vervaardig. Ramaphosa het tydens die bekendstelling van ‘n beleggings- en industrialiseringsprojek in die provinsie gesê die beplande belegging kan sowat ses-duisend werksgeleenthede skep deur die montering van ingevoerde onderdele. Hy sê die maatskappy moet ‘n stap verder gaan deur plaaslik-ontginde minerale vir die vervaardiging van motoronderdele te gebruik:
# TLU SA doen ‘n beroep op verbeterings aan landelike paaie, spoorvervoer en logistiek om die druk op Suid-Afrikaanse boere te verlig. Die landbou-organisasie sê swak infrastruktuur en ondoeltreffende vervoer verhoog produksiekoste in ‘n tyd waarin boere reeds met skerp brandstofprysstygings voor die somerplantseisoen gekonfronteer word. Bennie van Zyl van TLU SA sê die aanspreek van die uitdagings kan help om koste te verlaag en om die langtermyn-volhoubaarheid van voedselproduksie te ondersteun:
# Suid-Afrika het ‘n nuwe Nobelprys vir Vrede-wenner, en sy kon self skaars die nuus glo. Die 85-jarige menseregte-advokaat Navi Pillay het glo gesê: “Ek hoop dit is ‘n nie ‘n grap nie,” toe sy hoor dat sy die 2026-Nobelprys vir Vrede gewen het. Pillay, is tydens die apartheidjare in Durban gebore, en het later opgetree as regsverteenwoordiger vir Nelson Mandela en ander anti-apartheidsaktiviste. Sy was ook regter by internasionale howe en het as die Verenigde Nasies se Hoë Kommissaris vir Menseregte gedien. Die Nobelkomitee het haar vereer vir haar lewenslange pogings om vrede en internasionale reg te bevorder.
Intussen is die Amerikaanse president Donald Trump hoogs verontwaardig nadat die Pillay as die wenner aangewys is. Pillay het gister grappenderwys gesê sy sal miskien die prys met Trump deel as haar gehoor harder hande klap. Trump het haar daarna op sosiale media beskuldig dat sy anti-Amerikaans en anti-Israel is. Hy het later die Noorweegse Nobelkomitee se besluit as skandelik en ‘n ‘onuitwisbare vlek’ op Noorweë beskryf. Trump meen al vir jare dat hy, danksy sy diplomatieke pogings, die gesogte toekenning behoort te ontvang.
# En krieket: Die openingsdag van die eerste toets tussen Suid-Afrika en Australië is weens swak lig beëindig met ses Australiese paaltjies reeds plat. Die besoekers het besluit om eerste te kolf en tot 124 vir ses teruggesak voor Matt Renshaw en kaptein Pat Cummins die beurt bestendig het met ‘n onoorwonne vennootskap van 63 lopies. Renshaw is op 46 en Cummins op 33. Wiaan Mulder, Marco Jansen en Anrich Nortje het elk twee paaltjies geneem. Australië hervat sy beurt vanoggend op 187 vir ses, met Renshaw en Cummins voor die penne.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….