Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 Oktober 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Haaie se hoofafrigter, JP Pietersen, het talle veranderinge aan sy span aangebring vir môre se Verenigde Rugbykampioenskap-derby teen die Stormers in Kaapstad. Die besoekers het hul eerste twee tuiswedstryde van die seisoen gewen terwyl die gashere gemengde welslae oorsee behaal het. Die veelsydige Springbok, André Esterhuizen, sal die Haaie aanvoer wat ook sy internasionale spanmaats Ox Nché, Thomas du Toit, Jaden Hendrikse, Vusi Moyo, Eben Etzebeth, Edwill van der Merwe en Ethan Hooker in die beginspan insluit. Die stut Vincent Koch is op die bank.
# Tennis: Carlos Alcaraz voel geestelik sterk voor sy terugkeer na die Shanghaise Meesterstoernooi ná sy oorwinning op die Japanse Ope. Die wêreld-nommer-drie het Dinsdag vir Jiri Lehecka in Tokio geklop vir sy eerste titel sedert sy terugkeer nadat ‘n polsbesering hom bykans vyf maande van die baan gehou het. Alcaraz sê sy liggaam pas nog aan by veeleisende wedstryde, maar hy oefen goed en is gereed vir die uitdaging in Sjanghai. Hy het nog nooit verder as die kwarteindronde van dié toernooi gevorder nie.
Nog tennisnuus, Alcaraz, Jannik Sinner, Naomi Osaka en Coco Gauff gaan deelneem aan die Eenpunt-slam voor volgende jaar se Australiese Ope in Melbourne. Dié ongewone toernooi laat beroepspelers met amateurs meeding, waar elke wedstryd deur ‘n enkele punt in ‘n uitklopformaat beslis word. Die wenner kry prysgeld van sowat sestien-miljoen-rand. Die eindstryd vind op 13 Januarie op die Rod Laver-arena plaas voor die Ope op 17 Januarie begin. Die Australiese amateur Jordan Smith het vanjaar se toernooi gewen nadat hy Sinner geklop het onderweg na die titel.
# Motorsport: Die Ferrari-renjaer Lewis Hamilton hoop op nat weer vir die naweek se Grand Prix in Singapoer en sê hy floreer as hy in die reën moet jaag. Die sewemalige wêreldkampioen het verlede naweek derde geëindig in Maleisië. Hy het op droëweerbande in gladde toestande begin en van die 18de plek af teruggeveg. Hamilton sê uitdagende weerstoestande toets renjaers se vaardighede en skep geleenthede om ‘n verskil te maak. Reën kan Saterdag se snelwedren en Sondag se Grand Prix beïnvloed. Met slegs een oefenrondte voor kwalifisering vir die snelwedren, het spanne beperkte tyd om voor te berei.
# En laastens gholf: Min Woo Lee van Australië is kort op die hakke van die voorlopers in die Baycurrent Classic in Japan nadat hy het met ‘n vyf-onder-baansyfer 67 geopen het. Die 28-jarige is deel van die groep voorlopers op die punteleer op die Yokohama-buiteklub. Die Amerikaner, Jacob Bridgeman is heel voor nadat hy ‘n skitterende agt-onder-baansyfer 63 aangeteken het, met Jordan Smith van Engeland slegs een hou agter hom. Die verdedigende kampioen, Xander Schauffele, is ook in die wedloop. Die toernooi eindig Sondag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….