Nuus 11:00
BULLETIN 9 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Getuie S gaan agter geslote deure voor die Madlanga-kommissie getuig
# Die Verbruikerskommissie herroep voertuie oor gebrekkige veiligheidsgordels
# En netbal: Engeland bied die Wêreldbeker in 2031 die vierde keer aan
# Die Madlanga-kommissie het ingestem om Getuie S se getuienis agter geslote deure aan te hoor. Voorsitter Mbuyiseli Madlanga het die getuie opdrag gegee om te getuig op ‘n datum wat nog bepaal moet word, en die bekendmaking verbied van die persoon se identiteit, beroep of enige besonderhede wat die persoon sou kon identifiseer. Dit beteken dat slegs kommissarisse, getuienisleiers, regsverteenwoordigers en sekere kommissie-amptenare die getuienis sal bywoon. Die kommissie ondersoek bewerings van misdaad en politieke inmenging in die strafregstelsel.
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het sekere voertuie herroep weens moontlike veiligheidsgebreke. Dit behels Audi Q3-modelle, Hyundai Santa Fe-hibriedvoertuie en Toyota Hino 700-vragmotors. Audi herroep 235 Q3-voertuie wat sedert April verkoop is nadat vasgestel is die bandmateriaal van die voorste veiligheidsgordels is moontlik nie korrek aan die draagstruktuur geheg nie. Die kommissie se woordvoerder, Phetho Ntaba, sê Hyundai herroep 162 Santa Fe MX5-hibriedvoertuie wat verlede jaar verkoop is, weens moontlike wanbelyning van die voorste veiligheidsgordel-ankerpunte:
# Die Afrika Mayibuye-beweging beskuldig die regering dat sy stryd teen dwelmsindikate misluk. Dit volg na die ontdekking van dwelmlaboratoriums van miljoene rand in Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en Noordwes. Die beweging se woordvoerder, Sydney Baloyi, sê volgens getuienis voor die Madlanga-kommissie het politiek en die polisie by dwelmsindikate ingesypel. Hy sê ‘n staat met politieke wil kan hierdie oorlog wen:
Nuus uit die buiteland:
# Veldbrande in Indonesië het ʼn rokerige dynserigheid veroorsaak wat daartoe gelei het dat talle skole in die buurland Maleisië vandag gesluit is. Die minister van Onderwys, Fadhlina Sidek, het die aankondiging op sosiale media gedoen nadat 37 gebiede ongesonde lugbesoedelingsvlakke aangemeld het. Eerste minister Anwar Ibrahim sê Indonesië se president, Prabowo Subianto, het ingestem om die nodige stappe te doen om die dynserigheid te bekamp, terwyl Maleisië hulp aangebied het. Hy vra ook ʼn vergadering van die Suidoos-Asiese groepering ASEAN se ministers om ʼn streeksreaksie te koördineer.
# Netbal: Engeland gaan in 2031 weer gasvrou wees vir die Wêreldbekertoernooi – die vierde keer dat die land die toernooi aanbied. Dit sal in Manchester se binnenshuise arena plaasvind nadat Liverpool die toernooi in 2019 aangebied het. Eastbourne was in 1963 die gasvrou en Birmingham het 1995 se toernooi aangebied. Die president van Wêreld-Netbal, Liz Nicholl, sê die land het ‘n baie sterk bod ingedien en die beheerliggaam is vol vertroue dit sal weer ‘n opwindende internasionale geleentheid wees. Volgende jaar se Wêreldbekertoernooi vind in Sydney, Australië, plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 18-rand-54-sent teen die euro en 21-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-481-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-194-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….