Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 Oktober 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die regering is besig om sy beleid oor vlugtelinge te hersien nadat ‘n Konsitusionele-hofuitspraak tot geweld en verwarring gelei het. Die koerant skryf amptenare soek regsduidelikheid oor asielprosedures te midde van gewelddadige betogings in Durban en Johannesburg.
# Mail & Guardian:
Skryf ook oor die asiel-probleem. Die koerant berig die regering gryp in om burgers gerus te stel en disinformasie en waninligting die hoof te bied, terwyl ‘n hofuitspraak die land in ‘n immigrasie-chaos gedompel het.
# Die Papier:
Berig eerstens Herman Mashaba van ActionSA eis dat die DA moet ontslae raak van hul burgemeesterskandidaat in Johannesburg, Helen Zille, voordat hy oor ‘n koalisie sal onderhandel.
Dan skryf die koerant wat die stand van die verskillende partye is volgens die jongste meningspeilings. Die DA maak skoonskip in die Kaap, maar in Johannesburg en Tshwane is daar nie ‘n volstrekte meerderheid nie, wat samewerking met die ANC nie uitsluit nie.
En laastens word berig terwyl Eskom sê beurtkrag is verby, is die kragprobleme in die meeste groot metro’s steeds nie opgelos nie.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die Grensbestuursowerheid het ontken dat misdadigers wat deur die VSA na Eswatini verban is Suid-Afrika deur informele grensoorgange insypel.
En tweedens skryf die webblad die plundery deur betogers tydens die gewelddadige betogings wat gister in Soweto en Durban oor asielsoekers uitgebreek het, sal deur die polisie ondersoek word.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die waarnemende nasionale polisiekommissaris, luitenant-generaal Puleng Dimpane, het gisteraand Soweto besoek om die veiligheidsituasie te beoordeel. Die nasionale woordvoerder, brigadier Athlenda Mathe sê Dimpane het die situasie beoordeel en ‘n opdatering gegee oor polisie-ontplooiings in KwaZulu-Natal en Gauteng, sowel as ander gebiede wat as potensiële brandpunte geïdentifiseer is.
# Sowetan:
Lei met: “TENSIONS EXPLODE” en berig ook oor die gewelddadige betogings wat in Johannesburg en Durban uitgebreek het oor asiel aan migrante.
# En The Citizen:
Skryf miljoene rand se belastinggeld word vermors op infrastruktuurprojekte landswyd omdat die regering volgens ‘n kenner nie planne tot uitvoer kan bring nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig daar heers geheimhouding oor die ware gesondheidstoestand van oudpresident Jacob Zuma. Hoewel die MK-party sê daar is nie rede tot kommer nie, het Zuma nou ook nie by die Johannesburgse manifesbekendstelling opgedaag nie. Daar word bespiegel dat sy toestand ernstiger is as wat voorgegee word.
En tweedens skryf die koerant duisende liewenheersbesies het op strande in die Wes-Kaap uitgespoel, wat rooi-en-swart stroke kewers langs die hoogwatermerk by die Strand agtergelaat het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit is gelas om behuisingsprojekte te voltooi as deel van sy pogings om die behuisingstekort in die metro aan te spreek. Die munisipaliteit het begin met die bou van 153 huise in Joe Slovo en KwaNobuhle; die konstruksie sal na verwagting teen 26 Februarie 2027 voltooi wees.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Berig die uitspraak van die Konstitusionele Hof oor die geleentheid aan onwettige immigrante om vir asiel aansoek te doen, het die spanning in groot dele van die land laat oplaai.
En skryf tweedens die Appèlhof het beslis Willem Hendrik Ackerman moet steeds 500-duisend-rand aan die Ahmed Kathrada-stigting betaal vir die herhaaldelike gebruik van die k-woord.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibië se eerste pediatriese kardioloog, dokter Fenny Shidhika, het skielik uit die ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste bedank, oor soos sy dit stel “vernederende dreigemente”.
En tweedens skryf die koerant die munisipale raad van Walvisbaai het besluit om sy kontrak met die skuldinvorderaar RedForce Debt Management te beëindig.