Nuus 07:00
BULLETIN 9 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minstens 14 voertuie is tydens gewelddadige betogings in Durban aan die brand gesteek
# Pro-Palestynse groepe vra vir ‘n boikot van Bocelli se konsert in Jordanië
# En krieket: ‘n Hewige stryd word verwag in die reeks tussen wêreld se twee top-toetsspanne
# Polisie in KwaZulu-Natal het bevestig dat minstens 14 voertuie gister aan die brand gesteek is tydens gewelddadige betogings in Durban se middestad. Volgens berigte het betogers in ‘n optog teen geslagsgeweld naby die kantoor vir Binnelandse Sake by die March and March-groep aangesluit. Geweld het blykbaar uitgebreek nadat ʼn betoger deur ʼn buitelander aangerand en sy been gebreek is. Die polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê die omstandighede rondom die beweerde aanranding is nie duidelik nie:
# ‘n Wes-Kaapse vrou is 20-jaar tronkstraf opgelê vir die moord op haar drie agter-kleinkinders. Die 71-jarige Sarie de Villiers van Wellington het erken dat sy in November 2021 opsetlik met haar voertuig teen Bainskloofpas afgery het. Sy het dit oorleef, maar die agtjarige Caleb Booysen en sy jonger broers, Gradwell en Joshua, is dood. Die kinders was in pleegsorg nadat hulle uit die gesinswoning verwyder is weens hul ouers se dwelmmisbruik. De Villiers het aan Worcester se Streekhof gesê sy het hulle teen ‘n lewe van lyding beskerm.
# Die vakbond Giwusa sê die vervaardigingsektor ondervind ‘n ernstige afname nadat produksie in Augustus met 4,3-persent gedaal het. Die vakbond dring aan op ‘n ingrypende verandering in ekonomiese beleid, insluitend groter openbare belegging in vervaardiging en maatreëls om werkers teen afleggings en werkverliese te beskerm. Die president van Giwusa, Mametlwe Sebei, sê die afname in sektore soos motorvoertuie, chemikalieë, voedsel en drank, en metale kan tot verdere werkverliese lei:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement vra mense met diabetes en ander chroniese toestande om gereelde voetondersoeke te ondergaan en vroegtydig behandeling te soek om ernstige komplikasies, gestremdheid en amputasies te voorkom. Voetkundiges het tydens die 2025/26-boekjaar meer as 63-duisend pasiënte behandel en meer as 34-duisend mense ondersoek, insluitend meer as 14-duisend mense wat met diabetes leef. Steve Mabona van die departement sê 61 voetheelkundiges lewer spesialis-voetversorging by elf hospitale en in vyf gesondheidsdistrikte:
Nuus uit die buiteland:
# Die beroemde Italiaanse tenoor Andrea Bocelli se konsert in Jordanië kan moontlik geboikot word oor sy steun vir Israel. Eerste minister Benjamin Netanyahu het in 2022 sy konsert in Tel Aviv bygewoon nadat die sanger pro-Palestynse aktiviste se aandrang ignoreer het dat Israel geboikot word. Bocelli het ook in 2010 opgetree by ʼn fondsinsamelingsgeleentheid in Los Angeles vir ʼn groep wat die Israelse Weermag ondersteun. Die 68-jarige se konsert in die antieke Jordaniese stad Petra einde November is deel van sy Romanza-wêreldtoer om sy loopbaan van 30 jaar te vier.
# Krieket: ‘n Hewige stryd word verwag in die reeks tussen die twee voorste lande op die Wêreldtoetskampioenskaps-punteleer, Australië en Suid-Afrika. Die eerste toets begin vandag in Durban. Suid-Afrika weet nou hoe om die aartsvyand te klop nadat hulle die eindstryd van die vorige seisoen gewen het. Die skaduwee van die skuurpapier-skandaal van 2018 hang steeds oor die besoekers. Ses spelers van agt jaar gelede is steeds deel van die span: kaptein Pat Cummins, oudkaptein Steve Smith, Josh Hazlewood, Mitchell Starc, Nathan Lyon en Matthew Renshaw.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 18-rand-58-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-855-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-173-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 106-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….