Nuus 18:00
BULLETIN 8 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa se Staatsrede sal na verwagting vanjaar ‘n deurslaggewende rol speel in sakevertroue
# Eskom vorder met die herstel van kragtoevoer in die Karoo
# En, duisende Maties neem deel aan die instelling se jaarlikse Sosiale Impak-gemeenskapsoggend
# Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid verwag dat president Cyril Ramaphosa se Staatsrede vanjaar ‘n deurslaggewende rol sal speel in sakevertroue. Sacci se sakevertroue-indeks vir Desember 2023 het op 112,1 te staan gekom, wat die tweede hoogste was vir die jaar, ná verlede jaar Januarie se hoogtepunt op 112,9. Die uitvoerende hoof van Sacci, Alan Mukoki, sê ‘n marginale verhoging tot 112,3 in Januarie vanjaar, wys op die behoefte aan strenger fiskale maatreëls wat in lyn is met monetêre beleid en uitgebreide ekonomiese groei om sake- en beleggersvertroue in 2024 te versterk.
# Eskom sê daar word hard gewerk om die kragetoevoer na dele van die Karoo te herstel nadat infrastruktuur verlede Saterdag beskadig is deur hewige weerstoestande. Die onderbreking sal na verwagting teen volgende Donderdag opgelos wees. Verskeie gebiede, insluitend Sutherland, die Roggeveld en Ladismith, is steeds sonder krag. Eskom se groot ingenieurspanne van die Wes- en die Oos-Kaap werk onverpoosd om beskadigde infrastruktuur te herstel. Eskom vra verskoning vir die ongerief en bedank kliënte vir hulle geduld.
# Die Verenigde Nasies benodig ongeveer 77-miljard-rand se hulp om burgerlikes by te staan wat deur die voortslepende oorlog in Soedan geraak word. Die fondse is vir humanitêre hulp én ook om diegene te help wat in buurlande skuiling gaan soek het. Soedan is in konflik sedert April verlede jaar, met regeringsmagte wat in konfrontasie is met ‘n paramilitêre groep, oor sy insluiting in die nasionale weermag. Die VN vra dringend wêreldwye steun en versoek nasies om nie die lot van Soedan se mense te midde van die voortslepende konflik te vergeet nie.
# Krieket: ‘n Onervare Proteas-toetsgroep sal vinnig moet leer uit hul nederlaag in die openingswedstryd teen Nieu-Seeland. Die Swartpette het die Suid-Afrikaanse span met ses nuwelinge uitoorlê en met 281 lopies geklop. Die tweede en laaste toets begin Dinsdag in Hamilton. Die afrigter, Shukri Conrad, sê die Proteas sal vinnig moet aanpas:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-15-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-29-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-48-sent per vat.
# En, laastens: Meer as vyf duisend nuwe studente aan die Universiteit Stellenbosch het deelgeneem aan die instelling se jaarlikse Sosiale Impak-gemeenskapsoggend. Dis deel van die amptelike verwelkomingsprogram vir nuwelinge. ʼn Woordvoerder, Chevaan Peters, sê die studente het deelgeneem aan verskeie bedrywighede soos die oorhandiging van skryfbehoefte-geskenkpakkies aan leerders, die uitdeel van kospakkies en die skoonmaak van ʼn strand:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….