Nuus 12:00
BULLETIN 8 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die parlementêre ad hoc-komitee handel sy beraadslaging oor ‘n voorlopige verslag af
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie ondersoek berigte van ‘n tweede longpes-geval in Rusland
# En rugby: Die Wallabies se afrigter kies die nuweling-senter Henry vir die eerste toets teen die All Blacks
# Die parlementêre ad hoc-komitee wat polisiekorrupsie ondersoek, het beraadslaging oor sy voorlopige verslag van 790 bladsye afgehandel. Dit sluit bewerings in dat die minister van Polisie, Senzo Mchunu, wat op spesiale verlof is, omkoopgeld ontvang het; Vusimuzi “Cat” Matlala se beweerde kontantbetalings aan die oudminister van Polisie, Bheki Cele; en die toekoms van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie. Die komitee se voorsitter, Soviet Lekganyane, sê die inhoud-span sal die voorlopige verslag redigeer voor dit na getuies gaan om kommentaar te lewer.
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra die Departement van Binnelandse Sake om dringend ondersoek te doen na die werkslading van vlugteling-ontvangskantore. Die Konstitusionele Hof het bevestig asielsoekers mag nie verhinder word om hul aansoeke te laat oorweeg slegs omdat hul nie sekere prosedures gevolg het nie, soos hul immigrasiestatus of versuim om binne die voorgeskrewe tydperk by ‘n ontvangskantoor aan te meld. Woordvoerder Claude Naicker sê dit kan verdere druk op die kantore plaas:
# Die Polisie se Misdaadintelligensie-eenheid en die Valke het vandag nog ‘n vermeende dwelmlaboratorium van miljoene rand ontdek op ʼn plaas in Krugersdorp, Gauteng. Nasionale polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê hulle het beslag gelê op Mandrax en ecstasy-tablette, en vyf Suid-Afrikaanse burgers is in hegtenis geneem. Dit volg op die ontdekking van ʼn Mandrax-aanleg van miljoene rand naby Hartbeespoort in Noordwes vroeër die week waar vier verdagtes aangekeer is.
Nuus uit die buiteland:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie probeer berigte bevestig oor ʼn tweede moontlike geval van long-pes in die suidoostelike Russiese streek Siberië. ʼn Vroue-laboratoriumwerker in diens van die Navorsingsinstituut vir Plaagbestryding in Siberië en die Verre Ooste in Irkoetsk het verlede week siek geword en gesterf aan longontsteking van onbekende oorsprong. Die WGO se direkteur-generaal, Tedros Ghebreyesus, sê Rusland ontken dat enige pes-gevalle aangemeld is:
# Rugby: Die Wallabies se hoofafrigter, Les Kiss, het ‘n sterk span gekies om die All Blacks te pak in Saterdag se Bledisloe-toets in Auckland. Die nuweling-senter Isaac Henry is in die beginspan in die plek van die geskorste Hunter Paisami. Die 27-jarige is die enigste verandering aan die opdrafspan wat Suid-Afrika twee weke gelede in Perth 42-38 geklop het. Lukhan Salakaia-Loto en Jeremy Williams is die slotpaar. Kiss verwag ‘n taai stryd:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-918-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-128-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….