Nuus 08:00
BULLETIN 8 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum vra die lede van die regering van nasionale eenheid om Ronald Lamola teen te staan
# Die MK-party sê Jacob Zuma se gesondheid is goed
# En die dodetal in die minibus-ongeluk by Cato Ridge het tot tien gestyg
# AfriForum sê die nege kleiner partye in die regering van nasionale eenheid behoort formeel beswaar te maak teen die wyse waarop die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, die betrekkinge met die VSA hanteer. Ernst van Zyl van die organisasie sê Lamola se onlangse opmerkings oor die Amerikaanse ambassadeur en sy teenwoordigheid by ‘n geleentheid van die Democratic Socialists of America kan die verhouding tussen Pretoria en Washington verder belemmer:
# Die MK-party sê sy leier, Jacob Zuma, se gesondheid is goed. Dit volg op berigte dat hy Dinsdag in die hospitaal opgeneem is nadat hy blykbaar siek geword het. Die koerant The Witness, in Pietermaritzburg, het berig dat ‘n ooggetuie gesien het hoe die voormalige president per ambulans na die hospitaal gebring en opgeneem word. Die MK-party sê Zuma het sy roetine-mediese ondersoek ondergaan, iets wat hy gewoonlik twee keer per jaar doen. Die party sê hy bly verbind tot sy veldtogte vir die plaaslikeregeringsverkiesing.
# Die dodetal ná die minibus-taxi-ongeluk op die MR-385 in Cato Ridge, net buite Hillcrest in KwaZulu-Natal, het tot tien gestyg, terwyl vyf ander ernstige beserings opgedoen het. ’n Voorlopige verslag dui daarop dat die volgelaaide minibus-taxi gister van Hammarsdale na Cato Ridge onderweg was toe die bestuurder in ’n draai beheer verloor en teen ’n boom gebots het. Ndabezinhle Sibiya, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse Departement van Vervoer, sê LUR Siboniso Duma betreur die tragedie:
# President Donald Trump van Amerika het sy opmerking herhaal dat die Iran-oorlog nodig was om te verhoed dat Teheran stede soos Los Angeles of San Diego in ‘n kernaanval vernietig. Dit is ten spyte daarvan dat Amerikaanse intelligensie-agentskappe verlede jaar verklaar het dat Iran sy pogings om kernwapens te bou, meer as twee dekades tevore laat vaar het. Los Angeles en San Diego het albei belangrike militêre installasies, insluitend vloot-hawens en lugmagbasisse. Trump het in San Antonio gesê hy sal Amerika beskerm:
# Krieket: Die Joburg Super Kings het die veelsydige 18-jarige Suid-Afrikaner, Jason Rowles, vir 2,9-miljoen-rand gekoop. Dis die duurste kontrak van die veiling van die SA20’s se vyfde seisoen. Die Super Kings het ook die voormalige Proteas-kaptein, Faf du Plessis, vir 2,7-miljoen-rand terug verwelkom, terwyl die Windies se ervare, veelsydige speler, Kieron Pollard, vir 1,5-miljoen-rand by hom aansluit. Die Pretoria Capitals het Proteas-kaptein Temba Bavuma en Rassie van der Dussen vir onderskeidelik 200-duisend-rand en 500-duisend-rand aangestel. MI Cape Town het die veelsydige Protea, Wiaan Mulder, vir 2,6-miljoen-rand nader gehark .
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-853-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-129-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 105-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….