Nuus 07:00
BULLETIN 8 Oktober 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa het vertroue in die gesamentlike nasionale verkiesingsveiligheidsplan
# Suid-Afrikaners kry ‘n nuwe hulpmiddel om ongewenste bemarking te stop
# En rugby: Wêreldrugby stel maatreëls in vir twee gevaarlike laagvat-tegnieke
# President Cyril Ramaphosa sê die land is gereed vir volgende maand se plaaslikeregeringsverkiesing en operasionele voorbereiding is in plek. Altesaam 142-duisend-en-72 kandidate is genomineer om tien-duisend-526 raadsetels by munisipaliteite te betwis. Dit sluit in 636 onafhanklike kandidate, 97-duisend-815 wykskandidate en 38-duisend-679 kandidate vir proporsionele verteenwoordiging. Ramaphosa sê hy het vertroue in die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur om die nodige veiligheidsmaatreëls vir die verkiesing gereed te kry:
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het ‘n gratis nasionale register bekendgestel waar verbruikers kan aandui as hul nie direkte bemarkingsboodskappe wil ontvang nie. Kommissaris Hardin Ratshisusu het op ‘n nuuskonferensie gesê verbruikers kan regstreekse bemarkers vooraf blok, terwyl bemarkers verbruikers gereeld van hulle lys moet verwyder. Ratshisusu voeg by dit sal geleidelik ingestel word, met verbruikers wat vanaf Mei volgende jaar sal kan registreer en bemarkers blok:
# Die vuurwapen- en meineedsaak teen die selfverklaarde politieke bemiddelaar Brown Mogotsi, is in die Johannesburgse Landdroshof tot 23 Oktober uitgestel. Die uitstel volg na sy regspan verdere besonderhede van die staat versoek het. Mogotsi se regsverteenwoordiger, Makau Sekgatja, sê die verdediging is ontevrede met die staat se reaksie. Die verdediging versoek inligting, insluitend die selfoonrekords van staatsgetuies, wat volgens hom van wesenlike belang is vir die voorbereiding van die saak. Daar word verwag dat die regsverteenwoordigers ‘n aansoek sal indien om die staat te verplig om die uitstaande inligting te verskaf.
# Gauteng se LUR vir Onderwys, Lebogang Maile, veroordeel die dood van twee leerders in Alexandra en sê skoolkinders se dood deur geweld is baie kommerwekkend. Die slagoffers is ‘n graad 12-leerder van Minerva Secondary School en ʼn graad 9-leerder van Alexandra High School. Volgens voorlopige berigte is die leerders in Alfred Nzo-straat, oorkant die Madala Hostel doodgeskiet. Maile se woordvoerder, Onwabile Lubhelwana, sê hierdie tragedie beklemtoon dat die beskerming en opvoeding van kinders die hele gemeenskap se betrokkenheid vereis:
# ʼn Tennessee-regter het ʼn mosie toegestaan dat alle relevante bewyse wat met die mislukte teregstelling van Christa Pike verband hou, bewaar word. Die 50-jarige Pike, wat in 1995 na haar skuldigbevinding aan moord ter dood veroordeel is, is in die hospitaal nadat sy verlede week twee dodelike pentobarbital-dosisse oorleef het. Pike se prokureurs sê die Tennessee Departement van Korrektiewe Dienste het ʼn “wrede en ongewone straf” toegepas deur sy doelbewuste onverskilligheid wat haar basiese mediese behoeftes betref en die verontagsaming van basiese mediese praktyke.
# Rugby: Wêreldrugby het die heup- en knie-laagvat-tegnieke as gevaarlike en onwettige duikslae verklaar. In ʼn heup-laagvat gebruik die spelers hul liggaamsgewig om ʼn speler grond toe te trek en sak van agter om die bal-draer se bene. Dit sal voortaan vuilspel wees en met ʼn strafskop gestraf word. Die knie-laagvat waar ʼn speler op een of albei knieë sak voor hy ʼn teenstander lak, is reeds ʼn oortreding en kan met ʼn strafskop gestraf word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-61-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-46-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-132-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 104-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….