Nuus 06:00
BULLETIN 8 Oktober 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Covid-19 het die behoefte aan plaaslik vervaardigde gesondheidsprodukte beklemtoon
# Internasionale Betrekkinge bevestig die veilige terugkeer van ‘n Suid-Afrikaner in Mosambiek
# En Hamas prys die aanvalle van 7 Oktober op Israel as ‘n ‘geskiedkundige mylpaal’
# President Cyril Ramaphosa sê die Covid-19-pandemie het die behoefte uitgelig om Suid-Afrika se plaaslike wetenskaplike, tegnologiese en farmaseutiese vervaardigingsvermoë te versterk. Ramaphosa het op die bekendstelling van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad se FuturePharma-fasiliteit in Tshwane gesê groter plaaslike produksievermoë is noodsaaklik om gesondheidsveiligheid te beskerm en veerkragtigheid vir toekomstige gesondheidsnoodgevalle te bou:
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê ‘n Suid-Afrikaanse man wat in September in Mosambiek vermis geraak het, is ongedeerd vrygelaat. Die departement het nie bekendgemaak of daar enige inhegtenisnemings was en of ‘n ondersoek na die voorval aan die gang is nie. Nelson Kgwete van die departement sê die man, van Phalaborwa in Limpopo, het as werktuigkundige in die Marrupa-gebied in die noorde van Mosambiek gewerk toe hy gevange geneem is:
# Die Spoorwegveiligheidsreguleerder sê sterftes is die bedryf se grootste uitdaging. Die jongste data toon die publiek was verantwoordelik vir 95,4-persent van alle sterftes. Ten spyte van ‘n algehele afname in spoorwegvoorvalle, het sterftes met 25,9-persent toegeneem, van 139 tot 175 in 2025/2026. Sekuriteitsvoorvalle het tot vyf-duisend-710 gedaal, wat ‘n jaar-tot-jaar-afname van 11,2-persent verteenwoordig. Diefstal van spoorwegbates het met 10,2-persent afgeneem, terwyl vandalisme met 15,1-persent gedaal het. Die bestuurshoof van die reguleerder, Brian Monakali, sê sterftes word aan ‘n klomp faktore toegeskryf, waarvan sommige nie onder die regstreekse beheer van die operateurs is nie.
# Die GOOD-party sê die DA se teenstand teen ongedokumenteerde immigrante voor volgende maand se plaaslike regeringsverkiesing is ongeregverdig. Die party het die DA se Tshwane-burgemeesterskandidaat, Cilliers Brink, gekritiseer omdat hy ‘n gewapende klopjag saam met privaat veiligheidsbeamptes gelei het wat gerig was op mense wat na bewering onwettig in die land woon. Brett Herron van GOOD sê die afdwinging van immigrasieregulasies is die staat se verantwoordelikheid en moenie aan politici of privaat veiligheidsondernemings oorgelaat word nie:
# Die Palestynse militante groep Hamas het die aanvalle van 7 Oktober 2023 op Israel as ‘n “geskiedkundige mylpaal” in sy stryd beskryf. Gister was dit drie jaar sedert Hamas verskeie aanvalle in Israel, waaronder by ‘n musiekfees, uitgevoer, meer as een-duisend-200 mense vermoor en 251 gyselaars na Gaza ontvoer het. As weerwraak het Israel ‘n militêre aanval in Gaza van stapel gestuur waarin meer as 74-duisend-200 mense sedertdien omgekom het. Hamas sê sy aanvalle, was in reaksie op dekades van aggressie deur Israel en het die illusie oor die mag van die land se weermag vernietig.
# Krieket: Australië berei hom voor op ‘n vyandige ontvangs in Durban môre, wanneer die span sy eerste toetswedstryd in Suid-Afrika speel, sedert die balpeuterskandaal van 2018. Kaptein Steve Smith, onderkaptein Dave Warner en bouler Cameron Bancroft is almal gestraf nadat televisiekameras gewys het hoe Bancroft die bal met skuurpapier grof maak tydens die derde toets in Kaapstad. Die Proteas se hulpafrigter, Ashwell Prince, sê hoewel die uitlok en belediging van teenstanders nie meer so algemeen soos voorheen is nie, het dit nie heeltemal uit die spel verdwyn nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-61-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-218-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-104-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 104-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….