Nuus 14:00
BULLETIN 7 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kgosientsho Ramokgopa kondig ‘n nuwe elektrisiteitsopwekkingsplan aan
# JD Vance sê Iran moet sy uraanverryking verminder om die oorlog te beëindig
# En krieket: 156 spelers is beskikbaar op die veiling vir die vyfde seisoen van die SA20
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het ‘n nuwe Artikel 34-bepaling aangekondig om bykomende elektrisiteitsopwekkings-vermoë tussen vanjaar en 2037 te ondersteun. Dit sluit wind-, son-, batterybergings- en gas-tot-krag-tegnologie in. Ramokgopa het in Pretoria gesê ‘n meerjarige verkrygingspyplyn sal groter sekerheid aan die mark bied. Hy het ook die staatsgeleide kragparke-program bekendgestel. Dis daarop gemik om struikelblokke vir opkomende ontwikkelaars te verminder, eienaarskap uit te brei en transmissie, berging en plaaslike ekonomiese ontwikkeling te ondersteun terwyl nuwe vermoë in die nasionale netwerk geïntegreer word.
# AfriForum se privaat vervolgingseenheid sê president Cyril Ramaphosa se herstelplan vir geslagsgeweld onthul jare lange mislukkings van die polisie. Die eenheid het in korrespondensie met die waarnemende nasionale kommissaris, Puleng Dimpane, ses sake uitgewys waarin onder meer beweerde verkragters en moordenaars tot vyf jaar lank los rondloop. Barry Bateman van AfriForum sê die polisie gebruik die woord “gesirkuleer” om aanspreeklikheid te ontduik, terwyl dossiere stof vergader en slagoffers sonder terugvoer gelaat word:
# Die maatskaplike sekerheidsagentskap SASSA waarsku begunstigdes teen onnodige of gereelde veranderinge aan betaalmetodes. Woordvoerder Andile Tshona sê herhaaldelike veranderinge kan toelaes in gevaar stel en lei tot vertragings en betalings wat teruggestuur word weens foute of onbevestigde rekeninge. Hy sê bestendige bankverhoudings help om ononderbroke betalings te verseker en ontwikkel ‘n bankgeskiedenis. Tshona waarsku ‘n verandering van bank hef nie kontraktuele verpligtinge teenoor kredietverskaffers op nie, en vra begunstigdes om finansiële hulp in te win:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse vise-president, JD Vance, sê Iran moet sy uraanverrykingsvermoëns betekenisvol verminder om aan Amerika se eise te voldoen en die oorlog te beëindig. Hy sê Washington wil noemenswaardige optrede sien eerder as beloftes. Vance bevraagteken waarom Teheran uraan nodig het wat tot 60-persent verryk is, indien hy nie van plan is om ‘n kernwapen te bou nie. Iran en Amerika het onderhandel oor voorstelle om die konflik te beëindig en die Seestraat van Hormoes te heropen, maar president Donald Trump het Teheran se jongste aanbod verwerp.
# Krieket: Honderd-56 spelers is beskikbaar op vanaand se veiling vir die vyfde seisoen van die SA20. Die 95 Suid-Afrikaners en 61 oorsese spelers is uit 789 aansoeke op die kortlys geplaas. Slegs vier spanne sal bie, aangesien Durban’s Super Giants en Paarl Royals reeds hul groepe van 19 voltooi het. Spanne moet bestaan uit ‘n minimum elf Suid-Afrikaners, insluitend twee onder-23-spelers, en ‘n maksimum van sewe oorsese spelers. Pretoria Capitals het Dewald Brevis behou, wat hulle op verlede seisoen se veiling vir ‘n rekordbedrag van 16,5-miljoen-rand gekoop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-66-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-711-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-118-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….