Nuus 13:00
BULLETIN 7 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ondersoekeenheid skep ’n eenheid om te bepaal hoeveel van die verwysings aan die NVG suksesvol opgevolg word
# Die leier van March and March lê ‘n klagte oor ‘n beweerde doodsdreigement op sosiale media
# En rugby: Vier lande wil die Wêreldbekertoernooi die eerste keer na Suid-Amerika bring
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het ‘n eenheid gestig om te monitor hoeveel van sy verwysings na die Nasionale Vervolgingsgesag op suksesvolle vervolgings uitloop. Die hoof, Leonard Lekgetho, het aan die Parlement se portefeuljekomitee oor Justisie gesê hulle het vanjaar reeds meer as 700 verwysings gedoen. Die komitee se voorsitter, Xola Nqola, sê die eenheid se werk is tevergeefs indien daar nie op verwysings reageer word nie. Lekgetho sê dis moeilik om terugvoer te kry:
# Die leier van die March and March-beweging, Jacinta Ngobese-Zuma, het ‘n saak aanhangig gemaak oor ‘n beweerde doodsdreigement op sosiale media. Sy het die voorval gister by die Durban-Sentraal-polisiestasie aangemeld nadat ‘n man na bewering op Facebook ‘n oproep gedoen het dat sy verkrag en vermoor moet word. Die plasing is intussen verwyder. Die ANC het die uitlatings ten sterkste veroordeel. Die party voer aan daar is geen regverdiging vir aanhitsing tot geweld nie en vra die polisie om die saak te ondersoek.
# Die Mededingingskommissie het teen die Premier-groep opgetree oor die beplande sluiting van die RFG-vrugte-inmaakfabriek in Tulbagh in die Wes-Kaap. Die kommissie het ‘n aansoek ingedien om die Mededingingstribunaal se voorwaardelike goedkeuring van Premier se samesmelting met RFG Holdings op 6 Maart te herroep. Dis op 30 Maart ingestel nadat die partye gesê het hulle oorweeg nie om enige aanlegte te sluit nie. Woordvoerder Siyabulela Makunga sê die sluiting is voor goedkeuring oorweeg en nie bekend gemaak nie, ondanks versoeke. Die fabriek het meer as 400 werkers in diens.
Nuus uit die buiteland:
# Die voormalige Australiese biskop Christopher Saunders is tot ses-en-‘n-half jaar tronkstraf gevonnis vir die seksuele mishandeling van twee jong mans tydens sy ampstermyn as Katolieke geestelike. Die 76-jarige is in Augustus skuldig bevind aan 13 seksuele oortredings, maar vrygespreek van beweerde oortredings teen ‘n derde jong man. Hy sal in Februarie 2031 vir parool in aanmerking kom. Andrew Broadley van die Wes-Australiese polisie verwelkom die uitspraak:
# Rugby: Argentinië, Uruguay, Chili en Brasilië hoop om die Wêreldbekertoernooi in 2035 die eerste keer ooit na Suid-Amerika te neem. Hulle het ‘n gesamentlike bod ingedien en beplan om elf stadions in tien stede te gebruik – agt in Argentinië en een in elk van die ander drie lande. Spanje en Japan het ook belangstelling getoon om die toernooi aan te bied. Wêreldrugby sal in Mei volgende jaar die voorkeur-gasheer aanwys na terreinbesoeke en uitvoerbaarheidstudies, en die amptelike aankondiging sal in November gedoen word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-934-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-122-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….