Nuus 12:00
BULLETIN 7 Oktober 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF in Gauteng verwelkom die inhegtenisneming van ’n tweede verdagte in die moord op Monica Dube
# Israel herdenk drie jaar sedert die dodelike Hamas-aanvalle
# En die Oscar-wenner Eva Marie Saint sterf op 102
# Die EFF in Gauteng verwelkom die inhegtenisneming van ‘n tweede verdagte in verband met die moord op sy voormalige sub-streekssekretaris in Tshwane. Monica Dube is in Junie by haar huis in Wallmannsthal doodgeskiet. Die Gautengse taakspan vir politieke moorde het die 39-jarige gisteraand aangekeer nadat die eerste verdagte in Julie vasgetrek is. Woordvoerder Dumisani Baleni sê hulle het deurgaans volgehou die moord was nie die werk van net een mens nie:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het hom verbind tot sterker toesig en aanspreeklikheid. Hy sê herhalende swakhede wat deur toesig en oudits geïdentifiseer is, moet met daadwerklike optrede aangepak word. Manamela het kennis geneem van die Ouditeur-generaal se aanbevelings, insluitend die behoefte aan sterker toesig oor uitvoerende bestuur, duideliker rigting oor hervormings, meer noukeurige ondersoek na bestuur en aanstellings, en beskerming van vaardigheidsbefondsing. Hy sê die departement se leierskap, rade, administrateurs en uitvoerende hoofde sal aanspreeklik gehou word.
Nuus uit die buiteland:
# Israel herdenk vandag drie jaar sedert die aanvalle onder leiding van Hamas op 7 Oktober 2023 waarin ongeveer een-duisend-200 mense dood en 251 gyselaar geneem is. Dit was die dodelikste enkele dag vir Jode sedert die Volksmoord. Die Palestynse militantegroep het verskeie gebiede geteiken, waaronder ‘n Israeliese militêre basis, dorpe naby die grens en ‘n musiekfees in die Negev-woestyn. Israel het uit weerwraak ‘n militêre aanslag in Gaza geloods waarin meer as 74-duisend-200 mense sedertdien omgekom het.
# Krieket: Australië se hoofafrigter, Andrew McDonald, het bevestig die veelsydige Cameron Green sal nie speel in die eerste toets teen Suid-Afrika wat Vrydag in Durban begin nie. Hy het verlede week ‘n buikbesering opgedoen tydens die derde eendagwedstryd teen die Proteas in Potchefstroom. Australië sal nou waarskynlik tussen Cooper Connolly en Nic Maddinson moet kies as nommer vyf-kolwer. McDonald sê Green herstel goed:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-63-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-34-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-130-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 103-dollar-96-sent per vat.
# En ten slotte: Die Oscar-bekroonde aktrise Eva Marie Saint is op 102-jarige ouderdom oorlede in haar huis in Los Angeles. Haar loopbaan het oor meer as sewe dekades gestrek. Sy het rolle vertolk in onvergeetlike klassieke rolprente soos On the Waterfront, waarvoor sy die Oscar vir beste vroulike byspeler gewen het, North by Northwest en Exodus. Saint was die oudste lewende Oscar-wenner. Baie van haar latere optredes was op die verhoog en op televisie, veral in die ABC-reeks Moonlighting.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….