Nuus 09:00
BULLETIN 7 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Padvragvereniging waarsku hoër brandstofpryse gaan vervoerkoste laat styg
# Frankryk verdedig polisieoptrede te midde van ongekende studente-betogings
# En sokker: Lionel Messi teken ‘n doel aan in sy laaste wedstryd vir Argentinië
# Die Padvragvereniging sê die jongste brandstofprys-styging gaan verdere druk op vervoerkoste en voorsieningskettings plaas wat ‘n uitwerking op produkpryse sal hê. Brandstof maak tussen 35- en 55-persent van bedryfskoste uit, afhangende van die operasie, tipe voertuig en roetes. Petrolpryse het met tussen drie-rand-12-sent en drie-rand-33-sent per liter gestyg, en dieselpryse met tussen twee-rand-84-sent en drie-rand-24-sent per liter. Die vereniging se uitvoerende hoof, Gavin Kelly, sê vervoermaatskappye sal onvermydelik pryse moet verhoog:
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxi-raad sê intussen hy het na die jongste brandstofprysverhogings besluit om verdere samesprekings met die regering, die taxi- en die brandstofbedryf te voer. SANTACO se woordvoerder, Mmatshikhidi Rebecca Phala, sê die doel is om ʼn ideale en volhoubare oplossing te vind wat ook die belange en finansiële werklikhede van taxi-operateurs, werknemers in die bedryf en pendelaars in ag neem. Sy sê hulle sal alle moontlikhede ondersoek voor ʼn finale besluit geneem word:
# Die Wes-Kaapse Onderwys-LUR, Jaco Londt, sê leerdervervoer-dienste hervat vandag na opbouende onderhandelings met die Suid-Afrikaanse nasionale raad vir operateurs van klein busse. Die raad het gister op die eerste dag van die vierde kwartaal bedrywighede opgeskort en 21-duisend-934 leerders gestrand gelaat. Die raad sê dis weens die afwesigheid van ʼn sinvolle reaksie deur die departement oor die dringende finansiële krisis van leerdervervoer-operateurs. Londt sê die huidige ekonomiese klimaat, met hoë brandstofpryse, maak ʼn volhoubare sakemodel vir vervoeroperateurs byna onmoontlik:
# Die Franse minister van Binnelandse Sake, Laurent Nuñez, het die polisie se optrede verdedig terwyl die land sukkel om sy grootste studente-betogings in dekades te beheer. Die polisie het traangas op betogers afgevuur met duisende leerlinge, onderwysers, ouers en vakbonde wat al sedert verlede week regoor Frankryk betoog en beter skooltoestande eis. Sowat 215 studente en 85 onderwysers is beseer, asook 715 polisiebeamptes. Nuñez sê die polisie se optrede was in byna alle gevalle binne verhouding. Die betogings het by tye in oproer ontaard en polisie-ingryping genoodsaak.
# Sokker: Lionel Messi het in sy 208ste en laaste wedstryd vir Argentinië sy skitterende internasionale loopbaan met ‘n doel afgesluit. Dit was die 39-jarige se 126ste doel vir sy land. Die Argentyne het die vriendskaplike wedstryd teen Benin in Buenos Aires met 3-0 gewen. Messi het die volgepakte stadion van 85-duisend mense na die wedstryd toegespreek en gesê dit was wonderlik om vir Argentinië te speel en sy drome te verwesenlik. Die agtmalige wenner van die Ballon d’Or sal sy loopbaan op klubvlak by Inter Miami voortsit, met ‘n kontrak wat in 2028 verstryk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-57-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-79-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-139-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 104-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….